
OntLaer het, soos heelwat aanlynpublikasies, baie inhoud oor KI gepubliseer sedert Substack se aankondiging dat lesers voortaan die KI-inhoud van artikels sal kan toets. So belangrik as wat die teenswoordige insette oor die rol van KI as hulpmiddel is, is die belangriker vraag dalk eerder wat na KI kom.
Wat wag ander kant die masjien vir ons? Sekerlik is die beste rigtingwyser die ontwikkeling van skilderkuns nadat die kamera ontwerp is. Die skilderkuns, en dan veral portretkuns, had ten doel om 'n gesigsuitdrukking of 'n liggaamshouding perfek en amper lewenseg vas te vang. Realisme word tans dikwels as politieke begrip aangewend om 'n denkrigting uit te druk wat van ideologie en visie af terugtree na die werklike feite, maar die begrip sou ewe goed vir kuns aangewend word. Die realisme in skilderkuns beteken dat die kunstenaar probeer om die onderwerp van die skildery so realisties en so eg as moontlik daar te stel. Dink maar aan Vermeer of Da Vinci, wat juis daarvoor geprys word dat hulle menslike uitdrukkings, die val van lig, of die fyn bewegings van vingers of arms so goed kon uitbeeld dat die leser hom- of haarself vir 'n oomblik kan voorstel dat hulle 'n blik op die realiteit kry, of in vandag se taal, dat hulle na 'n foto van die werklikheid kyk eerder as 'n skilder se afbeelding daarvan.
Binne enkele dekades het die kamera veroorsaak dat dit wat vir eeue slegs vir die rykste van ryk moontlik was, algemeen beskikbaar word. Skielik was dit nie net die koning of prins wat 'n gesigportret van sy geliefde vrou of kind met hom kon saamdra nie, Jan Alleman kon ook 'n fototjie in die beursie steek. Die impak van foto's op ons waardering en verspreiding van inligting kan moeilik oorskat word. Hoeveel foto's verskyn nie daagliks op familiegroepe of sosiale media nie? Maar die kamera het nie net voordele ingehou nie. Die portretmeester wat 'n adellike dogtertjie se fronsie so lewenseg kon vasvang is vervang deur 'n man wat 'n knoppie kon druk. Die portret het vervangbaar geword, dus het die vaardigheid om dit te vervaardig se markwaarde getuimel.
Die maklike afleiding sou nou wees dat die kamera die skilderkuns vernietig het, maar in 'n sekere sin het die teenoorgestelde gebeur. Skielik was die skilder bevry van die verwagting om die werklikheid weer te gee. Die vraag was nie meer hoe foutloos jy die fokuspunt van jou kuns daar kon stel nie, die nuwe vraag was: Wat kan jy daarmee doen? Probeer maar om Van Gogh se Sterrenag af te neem. Onmoontlik. Probeer maar om 'n gesig terselfdertyd van twee kante af gelyk af te neem maar steeds net een prent te sien soos Picasso dit geverf het. Ondoenbaar. Foutloosheid het skielik plek gemaak vir kreatiwiteit. En ek vermoed dat dit is wat met woordgebaseerde media gaan gebeur.
Die mikpunt van die outeur was, tot baie onlangs, foutloosheid. Om 'n artikel of hoofstuk foutloos in te dien was 'n groot deel van die sukses daarvan. Korrekte woordkeuse, logiese oorgange, kommas net waar hulle hoort - dit het saak gemaak. Deesdae word daar aangeneem dat hierdie dinge reg sal wees. Jou vermoë om op pad van die begin af as twee woorde te skryf was tot baie onlangs 'n vaardigheid om mee te spog, nou word hierdie korrektheid 'n gegewe. Hiermee bedoel ek natuurlik nie dat KI ons stukke moet skryf nie, allermins. KI-stukke kan op 'n myl uitgeken word, en word dikwels na 'n paar sinne eenkant gestoot soos 'n cappuccino met suur melk in. Nietemin moet KI betrokke wees by jou foutsporing en verbetering. In hierdie sin is die outeur nou bevry van korrektheid - jy hoef nie 'n onderskeiding in kreatiewe skryfwerk en taalkunde te gehad het om die leser in te katrol nie - jy moet net interessant wees. Juis om hierdie rede dink ek dat vandag se outeurs, ondanks KI, opgewonde moet wees oor die nuwe vlerke wat ons gekry het. Jy gaan jouself nie meer onderskei met hoe jy skryf nie, dit gaan nou alles oor wat jy skryf. Dink uniek, skryf oorspronklik, staan uit, en daar sal altyd 'n gehoor vir jou werk wees.
Gepraat van outeurs met 'n gehoor, hoe lekker was dit nie om Hercules se stuk oor die “derde plek” te lees nie?
Dit is opmerklik dat kroegies en plaaslike plekke van samekoms oor die wêreld heen in getal verminder. Een rede hiervoor is sekerlik aanlynvergaderings en die oorvloed van moontlikhede om jouself te vermaak sonder om jou huis te verlaat, maar wat ons besig is om te verloor is eintlik tragies. Die plaaslike koerantjie, die boeremarkie, die vriendelike bakker by die plaaslike Spar - al hierdie alledaagse verskynsels is deel van ons leefruimte. Ek dink Hercules vat dit perfek vas:
“Sonder derde plekke verloor 'n gemeenskap en samelewing die gewilligheid om mekaar in die oë te kyk en sake deur te praat, en om na die stories agter die slagspreuke te luister.”
Hilde skryf: “Dis duidelik dat die toekoms nie uitsluitlik aan KI behoort nie, maar eerder aan die samewerking tussen mens en masjien, waar KI kreatiwiteit ondersteun eerder as om te vervang.” So reg in die kraal van wat ook hierbo in die inleiding saamgevat is. Hierdie stuk masjien wat skielik terug kan praat en slim plannetjies kan maak is 'n wonderlike hulpmiddel, maar die gewoondraak daaraan gaan nog 'n rukkie vat, en die manier waarop groot maatskappye daarmee omgaan is 'n avontuur waarop ons almal maar moet saamgaan.
Bouwe van der Eems se meningstukke tel onder van die mees populêre stukke onder OntLaer-lesers, sekerlik omdat die stof waaroor hy skryf so eg en so aangrypend vir 'n groot deel van die samelewing is. Sekerlik besef elke ouer dat jy in jou hele lewe nog nooit so onseker was soos wanneer jy 'n groot besluit oor jou kind se lewe moet neem nie. Een voorbeeld van so 'n besluit is natuurlik die benadering tot opvoedkunde.
Die rol van die ouer by 'n kind se opvoeding bly juis so relevant omdat dit een van die mees nagevorsde velde in die akademie is. Die inherente nuutheid van ouerskap gepaard met nuwe studies en opponerende gevolgtrekkings het oor jare heen daarvoor gesorg dat 'n magdom menings en leesstof beskikbaar is. Dat hierdie veelheid van menings dikwels eerder verwarrend as behulpsaam is, is sekerlik voor die hand liggend, juis daarom is die duidelike rigting wat hierdie stuk inslaan insiggewend en leidend vir enige ouer wat voor dieselfde keuses staan.
Martin Meyer se kritiek op stilswye ten aanskoue van oortreding was 'n stewige porsie stof tot nadenke. Hoe waardevol is harmonie en gemak as dit ten koste van swaarkry kom wat gekeer kon word? Veral gegewe 'n dikwels aanvoelbare politieke apatie in Suid-Afrika, sal hierdie stuk nog vir 'n wyle relevant bly.
Soms is dit maklik om in die wolke van oordenking te verdwaal, en dan is dit nodig om herinner te word dat sommige stryde nie tegnologies en kunsmatig is nie, maar werklike vlees en bloed op die spel plaas en verg. Barend se waarskuwing teen radikale fundamentalisme is juis relevant teen die agtergrond van nuwe maniere om jongmense te radikaliseer wat van alle kante af opduik.
Wat doen jy met jou vryheid?
Daar was sekerlik portretskilders wat in sak en as gaan sit het toe kameras algemeen beskikbaar geraak het, maar hulle wat besef het dat die kettings van foutloosheid uiteindelik geknip is, het die kreatiewe en absurde vlerke ontdek wat hulle nooit geweet het bestaan nie. Hoe reageer ons op die nuwe moontlikhede wat daar skielik vir almal oopgegaan het? 'n Mens kan net hoop dat 'n nuwe era van kreatiewe skryfwerk besig is om sy vere reg te skud voordat hy sy vlerke sprei.
Vorige weke se DinkWeer Donderdag:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.













