DinkWeer Donderdag | Tintelings progressie
Vooruitgang steek op onverwagte plekke kop uit.
Miskien was hulle dit te wagte (baie moontlik nie), maar Poetin en Trump se nuwe multipolêre wêreldorde blyk vrugte af te werp, al is dit nou wel vir sekere kleiner streeksmagte eerder as die groot moondhede. Dit terwyl bepaald die Amerikaners sukkel om verlore ekonomiese veld te wen.
Die rand het vir die eerste keer in jare die R16-kerf teen die dollar deurgebreek en boer steeds daar rond. SA het dalk nie veel gedoen om sy eie geldeenheid in aanvraag te kry nie, maar die risiko’s daaraan verbonde om die ou hersenskimmige “reëls-gebaseerde orde” by die agterdeur uit te smyt, eis nou sy pond Amerikaanse vleis.
Uitsteeksels en tintelings van progressie kom beslis voor, ongeag vooropgestelde teoretiese verwagtinge. Vordering en vooruitgang kom dikwels voort uit onverwagte oorde; markgapings en nuwe kanse vir entrepreneurs het minder met selfhelp-boeke te doen as met die vermoë om 'n rand of meer kapitaal op die regte tyd vir die regte geleentheid te bewillig. Hierdie is maar van die temas wat uitsteek in OntLaer se uitgawe van 23 Januarie 2026.
Oorhoofs het Louise Mabille die pas aangegee met haar artikel waarin onder andere die fynere nuanse verskille tussen Suid-Afrikaanse liberalisme en progressivisme bespreek word.
Wat my wel opgeval het is hoe sy vir Hegel ingebind het: Soos ek Hegel se begrip van tesis-antitese-sintese verstaan, is hierdie geskiedenisvormende proses juis die hartjie van die ideologie van progressivisme self. Die filosofiese en ideologiese argument aan die kern daarvan is dat die geskiedenis as’t ware ewig voortgedryf word; dat die geskiedenis sigself eintlik aandryf en op die ou end word vooruitgang sodoende bewerk. Progressivisme, met sy unieke Whig-historiografie, laat dan eintlik min ruimte vir debat, juis omdat dit die basiese vertrekpunt huldig dat die geskiedenis noodwendig self in die rigting van verbetering en vooruitgang sal beweeg. Nogal missionaal, sou 'n mens die teologiese vergelyking kon trek. Miskien sê hierdie gedagte juis iets van die Christelik-missionale wortels van moderne progressivisme?
Ons leef natuurlik in 'n tydsgewrig waarin hierdie gedagte van 'n ten volle outomatiese geskiedenis van vooruitgang baie verleidelik is; sedert die 1700’s en veral die 1800’s word ons toenemend omring deur tegnologiese wondere en groter toegang tot lewensgehalte as ooit tevore. Daar is egter tye in die geskiedenis waarvolgens hierdie gedagte van ewige vooruitgang maklik verkeerd bewys word: Die Donker Eeue, waartydens kennis en leer tot die diepste kloosters beperk is, was die agterlike “sintese” van 'n Romeinse Ryk wat deur die groot migrasies van die tyd vervorm en verdring is.
Iedergeval, daar is iets ironies daaraan dat Louise vir Hegel kon betrek in 'n artikel wat juis progressivistiese oomblikke in ons geskiedenis krities bekyk (nie soseer met kritiek op die substansie van die oomblikke nie, min mense sal byvoorbeeld 'n argument van enige ernstige belang kan vorm dat die bevryding van vroue van onderdrukkende patriargale staatsinstellings ongewens was). Wat vir my verder uitgestaan het, is die fyn onderskeid wat – dalk onbedoeld – in Louise se artikel ontstaan het tussen “progressie” enersyds en “progressivisme” andersyds.
Tintelings progressie staan beslis uit in wat Louise beskryf as die verwesenliking van die oorspronklike Suid-Afrikaanse droom, waar swart en wit kiesers 'n groter premie begin plaas op skoon regering en behoorlike dienslewering, eerder as die politiek van die vel. Sommige in die progressiewe denkraamwerk sou wou hê dat daar eers een of ander vae “verrekening” oor velkleur tussen Suid-Afrikaners afgehandel moet word, alvorens kiesers oor brood en botter kwessies as Suid-Afrikaners – ongeag ras – kan begin optree. Die Pieter Groenewald-geval, wat Louise uitlig, is seker net een voorbeeld teen die groter agtergrond van die RNE wat wys hoe gewone Suid-Afrikaners bepaalde progressies self verwesenlik, en dat streng navolging van een of ander teoretiese voorskrif deur gelykheidsgesinde progressivisme die meeste mense gewoon nie skeel nie. Mense het op voetsoolvlak nie ideologie nodig om progressie te behaal nie.
Afrikaanse skole, skryf Dr Eugene Brink in verlede week se OntLaer-uitgawe, is insgelyks eilande van uitnemendheid, die soort vooruitgang wat van Suid-Afrika 'n wenland kan maak indien die voorwaardes vir hul sukses met erns deur die sogenaamde onderwyskenners in die staatsburokrasie oorweeg word.
Ek wonder dikwels of amptenare wat in die onderwys betrokke is, enigsins 'n goed-verwikkelde idee het oor wat dit alles verg om 'n skool – soos 'n suksesvolle Afrikaanse skool – jaar op jaar, dag tog dag te bedryf. Trouens, ek is amper seker dat die meeste amptenare se ervaring omtrent dit is wat hulle tot matriek toe ervaar het, en ongelukkig in die konteks van die diskriminerende en onterende onderrigstelsel van die apartheidsjare. Dit is seker verstaanbaar dat baie amptenare 'n radikale verandering en vooruitgang in ideologiese terme opdroom met hierdie slegte ervarings van hul eie skooljare in gedagte. 'n Deel van hierdie denkveronderstellings deur die meer ideologiese amptenary sal seker wees dat daar 'n element van “ontneming” is, en dat die aangewese teiken van regstelling dan sekerlik die Afrikaanse skolegemeenskap en hul hulpbronne moet wees.
'n Argument vir opheffende en regstellende stappe vir agtergeblewe skoolgemeenskappe kan beslis gemaak word, maar waarom die equalisandum (“dit wat gelykgestel moet word”) by die suksesvolle skoolgemeenskappe gaan “haal”, sodat die (problematiese) demografiese en staatsvoorkeur vir Engels dan Afrikaanse moedertaalonderrig marginaliseer?
Wanneer grondrestitusie deur die staat aangepak word – as opheffende en regstellende maatreëls – is die presedent dat die staat as die vergoeder intree, want die staat is immers die opvolger van die vorige bedeling. Gevolglik, waarom moet Afrikaanse skole deur staatsbeleid geteiken word as die effektief aangewese “vergoeders”, wat telkens moet bewys hul skole is te vol ten einde die plaaslike departementshoof se druk te vermy, en die staat kan gerieflik die verantwoordelikhede wat met die voorsiening van gehalte basiese onderrig gepaard gaan, net ontvlug?
Miskien verklap dit iets van die realpolitik aan die hart van ons konstitusionele bedeling: Grond is polities en eksistensieël te sensitief om grondeienaars as “vergoeders” aan te wys; skoolgemeenskappe kan makliker geboelie en gemanipuleer word om die staat se opheffingswerk vir hom te doen. Daar kan seker nog baie hieroor geskryf word.
Karl Kemp se lewendige (die Engelse woord “vivacious” voel gepas) en deurleefde artikel uit die buiteland is 'n groot prikkelende plesier om te lees. In Suid-Afrika is die kwessie van vreemdelinge, buitelanders en inkommers al so lank reeds 'n tema dat ek – nadat ek Karl se artikel gelees het – amper jammer gevoel het vir die Europeërs, maar “jammer” op die soort manier wat 'n pa sy matriekkind jammer kry wanneer laasgenoemde vir eindeksamen voorberei: Pa is al daar deur, hy ken die stampe en stote, maar leef tog mee.
Van die ou 19de eeuse “uitlander”-kwessie, wat oplaas as 'n geveinsde casus belli vir die Britte voor die Tweede Vryheidsoorlog gedien het, tot die 2000’s se xenofobiese aanvalle en Operasie Dudula vandag, het Suid-Afrikaanse groepe om die beurt geleer om die inkommer-verskynsel te probeer navigeer. Ons land, anders as die lidlande van die Europese Unie wat almal op etniese substrata gebaseer is, is nog altyd 'n konglomeraat van soms strydende nasionale en etniese belangegroepe, empaaiers en republieke. Ons het nie juis 'n ander keuse nie as om “saam-leef” strategieë te ontwikkel, wat vir baie in Europa nog haas ondenkbaar sal klink.
Besluit maar self of China se moontlike oorname as ekonomiese hoofmoondheid (soos skepties deur Daniël bejeën) vir ons 'n tinteling van progressie of 'n sekere diktatuurtoekoms sal wees, en lees dit gerus saam met Jurie van der Walt se artikel, om te sien of jy die outoritêre logika van moderne diktature in China ook kan raaksien (onder andere).
Vrydag 23 Januarie het nog 'n propvol OntLaer-uitgawe in jou inboks geplant, so lees dit gerus deur. Ons sien mekaar weer komende Vrydag met ons gewone korter tweeweeklike sirkulasie.
Nog artikels op DinkWeer Donderdag:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.














