DinkWeer Donderdag | Wie is ons, werklik?
Op die spoor van identiteit saam met verlede week se OntLaer-bydraes.
Ek het verlede week se OntLaer-uitgawe so bietjie soos 'n wandelpad ervaar. Nie vir die eerste keer nie, het ek die interessante verskynsel van aanknoping herhaaldelik raakgelees. Dit het vir my gevoel asof elke skrywer die stokkie so mooi by die vorige skrywer oorneem, en so 'n klein bietjie verder brei aan die vorige tapyt.
Ek het begin met Daniël se refleksie oor die interessante tye waarin ons leef, en bowenal het die vraag by my ontspring of dinge om ons werklik erger en vreemder raak, en of ons dalk maar net uiteindelik op die regte golflengte ingeskakel het. Ek wonder al vir 'n dekade hieroor: Het die wêreld werklik mal geword, of het ek net nou eers die oë om die malligheid te sien? Toe ek agtien maande oud was, is massamoord in Rwanda gepleeg, maar ek het meer omgegee oor busse en leeus. 'n Jaar later het die res van Joegoslawië inmekaar gestort en duisende mense is vermoor; ek het speelgoed-houtblokkies interessanter gevind. 'n Gewisse draaipunt was sekerlik, soos vir baie van my generasie, die 9/11-aanvalle wat Daniël tereg noem. Ek het steeds nie 'n antwoord op die vraag oor ons planeet se patologie teenoor my uiteindelike begrip daarvan nie, maar ek is geneig om te dink dat die waarheid êrens in die middel lê: Ons lewens word daardeur geskud wanneer daar groot magskommelings plaasvind en wanneer die wêreldorde uitmekaarval en homself anders aanmekaar plak, soos wat dalk tans die geval is.
Terselfdertyd dink ek dat ons in 'n inligtingsera leef waar ons eenvoudig baie vinniger weet wat skeefloop, so dit voel alles 'n bietjie nader.
Na afloop hiervan het ek toe in die stukke deur Frederik en Nils Gilman 'n baie duidelike antwoord op die vraag oor ons toestand gekry. Frederik se ontleding van Mark Carney se onlangse Davos-toespraak identifiseer duidelike merkers van grootskaalse magsomwenteling, en hy sien epogmakende potensiaal in Carney se kritiek op groot wêreldmagte se losse houding teenoor vasstaande internasionale protokol wat vir generasies ongekende vrede gebring het. Uiteindelik het Frederik se ontleding my nietemin met vrae oor Suid-Afrika gelos. Suid-Afrika, soos dit vandag bestaan, is die produk van die vorige groot omwenteling: As die Koue Oorlog nie tot 'n einde gekom het nie, sou die Amerikaanse, Britse en Europese druk op die Nasionale Party om 'n algemene verkiesing uit te roep, natuurlik afwesig wees. Suid-Afrika was, alhoewel dit nie sommer in die openbaar erken is nie, 'n bondgenoot van die Weste wat kernwapens uit die hande van Kuba en Moskou gehou het. Die minerale in Suid-Afrika sou die Koue Oorlog maklik vir nog 'n dekade kon verleng, indien nie meer nie. Suid-Afrika soos ons dit vandag ken, is gebore uit die as van die vorige groot omwenteling, so ons sal noodwendig 'n mini-identiteitskrisis ondergaan as die bestaande orde verander, juis omdat dit beteken dat die legitimerende orde agter die idee van Suid-Afrika en ons Grondwet self skuif. As die internasionale guns wat ons vir drie dekades geniet het daarop gebaseer was dat ons 'n voorbeeld van die moderne globale liberale demokrasie was, en die moderne globale liberalisme dop skielik om - wel, wat is ons dan? Wie is ons dan? By watter maatjies gaan staan ons tydens pouse?
Eugene Brink se kritiek op naamsveranderings het tereg uitgewys dat Suid-Afrika se probleme werklik eerder ANC-probleme is. Met naamsverandering as aanknopingspunt spreek hy 'n baie groter en dieper verskynsel aan, naamlik dat die ANC lankal opgehou het om werklike probleme aan te spreek, en nou daartoe oorgegaan het om probleme aan te spreek wat nie werklike probleme is nie. Die sprong van nasionale na kulturele identiteit was kort en onmiddellik, in die sin dat beide Lezli en Jurie van der Walt nouer gekyk het na Afrikaner-identiteit en hoe ons idees en ons menswees ten diepste deur ons gemeenskaplike oortuigings gevorm is.
Ek is baie geneig om met Lezli saam te stem dat die aanlynkerk, ondanks baie voordele, natuurlik baie sterk elemente van 'n ware geloofsgemeenskap mis. Jurie se punt oor Afrikaneridentiteit en hoe dit ons denke oor Israel vorm is net so raak. Ek vang myself dikwels uit dat ek steeds aan die Israel van Josua se tyd dink as ek in die nuus oor Netanyahu se Israel lees. Die twee lande het heelwat in gemeen, maar die verskille is drasties, en kan nie gewoon oorgesien word nie.
Asof dit vooraf so ontwerp is, val ek toe met hierdie handjievol gedagtes weg met John Grady Atreides se dwarsklap aan die sogenaamde wokeïsme. Ek het veral hierdie stukkie geniet: “Die digters, rocksterre en postmoderniste sê vir ons dat ons gevoelens voorrang moet geniet.” Vir almal van ons, maar dalk veral vir jongmense, wat nog aan die bak is maar nog nie heeltemal 'n volle brood is nie, kan gevoelens 'n groot rol in identiteitsvorming speel. Die jongmens kan dan baie maklik 'n identiteit soek in wat hy of sy voel, maar gevoelens is nie die setel van identiteit of moraliteit nie. Wie ons werklik is, as mens, as volk, as land, as generasie, as wat ook al, is eintlik net meetbaar aan wat ons doen. Wat ons doen, is vir my baie mooi aangespreek deur Leandrè Steenberg se bydrae, wat uitgegaan het van die gedagte dat ondersoekende joernalistiek die vermoë het om 'n gemeenskap gesond te maak deur verkeerde optrede uit te wys en die geduld en verdraagsaamheid wat vir misdaad bestaan in die kiem te smoor.
Uiteindelik het ek, terwyl ek OntLaer in die een hand gehad het, in my ander hand vasgehou aan CS Lewis se The Abolition of Man. Nadat ek deur al hierdie skrywes gewerk het, kom ek uiteindelik terug na Lewis se kritiek op die postmodernisme - juis omdat hy daardeur uitwys hoe identiteitskrisisse werklik opgelos word.
As elkeen vir homself kan besluit wat goed en reg is, dan sal die ondersoekende joernaliste sekerlik maar net uitwys wat hom of haar sal baat. As elkeen vir homself kan besluit wie slagoffer en wie held is, dan sal die woke-verskynsels sekerlik sin maak, want my eie interseksionaliteit en my eie swaarkry is ten minste uit my oogpunt belangriker as enigiemand anders s'n.
As reg en verkeerd van iedereen se uitleg afhang, kan die beste moontlike staat, gemeenskap, of gesin nooit nagestreef word nie, want ons sal nooit weet hoe dit lyk of wat dit is nie. Eers as ons erken dat daar iets is soos reg en verkeerd, soos goed en sleg, soos waarheid en leuen, kan ons die regte, die goeie en die waarheid nastreef.
Dit is sonder twyfel weer tyd om daardie soort harde lyne te trek.
Nog artikels op DinkWeer Donderdag:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.

















