DinkWeer Donderdag | Die Gesagsorde se Selfbeskerming
Hoe lank hou 'n gesagsorde wanneer te veel mense uitgesluit word?
Op die oog af was OntLaer se tafel hierdie week bont gedek: sielkunde, onderwys, landbou, vuurwapens, kultuur en politiek.
Rex van Vuuren skryf oor minagting as emosie én magshefboom, Bouwe van der Eems oor hoe 'n onderwysstelsel 'n reg kan verarm deur dit tot “stelselkonformiteit” te reduseer; Hügo Krüger en Hilde Kruger kyk na bek-en-klouseer, die een met 'n oog vir syfers en politieke teater, die ander met 'n plaasmens se intuïsie vir hoe 'n “bestuurbare probleem” in 'n stelselkrisis verander het. Fred Camphor wys hoe 'n vuurwapenbeheer-regime, gedryf deur swak administrasie, jare lank as 'n soort dubbele werklikheid voortploeter, Frank Furedi ontleed hoe slagofferskap as morele kapitaal begin funksioneer en Martin van Staden herinner ons dat erfenis nie deur 'n “proses” bepaal kan word nie.
Tussen al dié uiteenlopende temas deur het die vraag oor menslike stelsels en instellings vir my uitgestaan. Die heersende kontemporêre gevoel dat mense vir 'n stelsel bestaan, en nie andersom nie.
Van die kantlyn af is alles maklik
Toe ek nog in privaat regspraktyk was, het ek vir jare die luuksheid gehad om menings van die kantlyn af te lewer sonder om die volle koste van daardie opinies te dra. Ek kon makliker sê “die staat is die probleem” of “die markte los dit op”, en ek kon met 'n jongmens se sekerheid my wêreldbeeld bou op netjiese onderskeidings: vryheid teenoor dwang of die individu teenoor instellings.
Twee jaar in die regering het egter nie my instink vir vryheid uitgewis nie, inteendeel, dit het dit skerper gemaak. Maar dit het my wel gedwing om 'n eenvoudige vertroue dat “die staat” altyd die booswig is te laat vaar. Dis maklik om “die staat” of “die gesagsorde” oftewel die Establishment as 'n abstrakte vyand te sien, maar dis moeiliker wanneer jy sien dat die werklike masjinerie ook maar net uit gewone mense bestaan.
Die staat is immers 'n menslike skepping, net soos 'n maatskappy, 'n kerkraad, 'n vakbond, 'n universiteit of 'n mediamaatskappy.
Instellings is nie op sigself in hul wese heilig of boos nie. Hulle kan beskerm of verskraal, dien of verslind, afhangend van die mense betrokke.
'n Kort Geskiedenis van Instellings
“Die staat” se ontstaan kom nie vanuit 'n abstrakte ideologie voort nie, maar as 'n praktiese antwoord op 'n eenvoudige probleem: hoe bly 'n groep mense saam, leefbaar, veilig, voorspelbaar?
Sonder om te diep in die geskiedenis en staatsleer te verval, maar die geskiedenis van state begin op 'n eenvoudige voet. Eers is daar familie- en stamverband. Dan kom hul behoefte aan beskerming teen konflik, beskerming van eiendom, die afdwing van ooreenkomste en die beheer van geweld. Gevolglik groei gesagstrukture: hoofmanne, rade, later konings en administrasies. Derhalwe word die afstand groter tussen die gesagsorde wat geskep word en die mense onderworpe aan die struktuur.
Met ander woorde, instellings ontstaan omdat chaos duurder is as orde. Selfs 'n onvolmaakte orde kan vir 'n tyd beter wees as die alternatief.
Maar êrens langs die pad word die stelsel so groot dat dit as byna onafhanklik van die mense self gesien word. Die stelsel begin praat asof dit self 'n persoon is. “Die staat besluit”, terwyl dit in werklikheid net mense is wat besluit, vereis, toelaat, verbied.
Vir eeue probeer filosowe die gaping tussen onderdaan en owerheid te verduidelik. Sosiale-kontrakdenke sê mense “gee” 'n mate van outonomie op om orde en beskerming te koop. Marxistiese verklarings sê weer die staat is dikwels die instrument waardeur 'n heersende klas sy belange bestendig. Ander sienings skuif die klem en voer aan dat state soms met oorwinning gebou word eerder as instemming; Weber sê die staat is, prakties gesproke, die aanspraak op 'n monopolie oor wettige geweld terwyl legitimiteitsdenke wys dat gesag net werk solank mense dit as regmatig beskou. Al hierdie verklarings vat raak op sommige aspekte maar sit die pot mis met ander. Mense aanvaar gesag omdat hulle iets daaruit kry, maar sodra dit begin voel asof die stelsel hoofsaaklik vir homself werk, word die ruilverhouding broos en die wantroue skerp.
Wanneer mense vir die stelsel begin werk
Soos Rex van Vuuren verlede week skryf is minagting nie net 'n emosie nie, maar 'n manier om afstand te skep, 'n hiërargie in die hart. Sodra 'n instelling sy werk begin doen met minagting - vir die burger, vir die ouer, vir die boer, vir die slagoffer, vir die beskuldigde - word “stelsel” maklik 'n skuilnaam vir meerderwaardigheid.
Bouwe van der Eems se kritiek op onderwys is in wese 'n kritiek op 'n instellingslogika. Dat 'n fundamentele reg (onderwys) herlei word tot meetbare uitsette en administratiewe nakoming, en dat die kind bloot 'n item op 'n klaslys word. Hilde Kruger se beskrywing van kwarantyn, ontsmetting, verliese en spanning op die plaas is die ander kant van dieselfde munt. Stelsels (markte, uitvoerreëls, biosekuriteit, staatlike beheer) kan vinnig só swaar word dat die menslike werklikheid van die boer, die plaaswerker en die diere, begin voel soos bysaak. Selfs Hügo Krüger se argument om mooi na die syfers te kyk is 'n waarskuwing teen nog 'n instellings-refleks, naamlik die neiging om elke werklike probleem onmiddellik tot nasionale krisis te verhef, met al die simboliek, taal en mag wat daarmee saamkom. Die probleem is dat die raamwerk waarin ons dit plaas dan meer oor politiek gaan as oor werklikheid.
En in Fred Camphor se vuurwapenstuk sien 'n mens iets daarvan dat wanneer 'n administrasie nie kan lewer nie, reageer dit selde met nederigheid. Dit reageer dikwels met nóg reëls, nóg vereistes en nóg papier. Die stelsel het 'n inherente oorlewingsinstink en die burger moet maar “aanpas”. En so groei die gevoel dat die masjien gevoer word bloot vir die masjien se voorbestaan en nie vir die doel wat dit oorspronklik opgerig is nie.
Die anti-gesagsorde is ouer as Twitter
Al hierdie kritiek is egter kritiek teen die bestaande gesagsorde.
Daar bestaan egter nog altyd 'n teen-die-gesagsorde-streep in elke samelewing. “Anti-establishment” is nie net 'n moderne modewoord nie. Dit is 'n sielkundige en sosiale konstante. Selfs lank voor die moderne staat sien 'n mens dit, dink net aan die Engelse kleinboere-opstand van 1381 teen belasting en feodale verpligtinge, of die Duitse boere se oorlog van 1524–1525 teen feodale here en kerklike heffings. Die “gesagsorde” (die magsentrum of die gevestigde instellings) verteenwoordig dikwels dié wat baat by die bestaande reëls. En die mense wat uitgesluit word, of voel hulle word uitgesluit.
Die feit van die saak is dat gesagsordes menslik is, en gesagsordes sal altyd ontstaan omdat mense altyd 'n vorm van orde, reëls en gesag nodig het om saam te leef. Maar omdat dit menslik is, sal dit ook altyd die versoeking hê om in te sluit én uit te sluit en om gevolglik voordele te skep vir dié binne die kring, om toegang te beheer, om status te beskerm, om die “regte mense” te bevoordeel, en om die koste stilweg op ander af te skuif. Dus is bewegings teen bestaande gesagsordes ook menslik.
Maar so lank as wat 'n kritieke massa voel hulle word saamgedra en dat die stelsel, al is dit onvolmaak, darem ook vir hulle werk, bly die gesagsorde stabiel. Wanneer die uitsluiting werklik breed word, draai die wiel. En dan kry anti-gesagsorde-bewegings nuwe en byna demokratiese momentum. Anti-gesagsorde momentum kom en gaan dikwels soos die gety. Dit sak weg wanneer die meeste mense weer voel die stelsel dra hulle saam, en dit stroom in wanneer uitsluiting uitkring. 'n Mens sien byvoorbeeld in Google Books se Ngram Viewer hoe die gebruik van die woord “anti-establishment” in literatuur in golwe op- en afbeweeg, dikwels in die nasleep van periodes van onrus en wantroue.
Soms is hierdie teenreaksie opreg en soms is dit teater. Die opvoerigheid van die teenreaksie word dikwels in die kunste gesien. Soos akteurs, musikante ensomeer wat graag rebellie verkoop terwyl hulle terselfdertyd 'n kerninstelling van kulturele mag in die Weste is. Dit is hoe 'n mens absurde situasies sien waar 'n akteur op 'n verhoog met 'n goue beeldjie in die hand 'n preek lewer teen “die stelsel” en miljard-dollar maatskappye hul handelsmerke met die taal van weerstand verf.
Die feit van die saak is dat gesagsordes 'n mate van insluiting nodig het om selfstandig en volhoubaar te wees. En die persepsie dat die huidige stelsel in die Weste, Suid-Afrika inkluis, nie vir almal werk nie, groei toenemend. Of dit waar is of nie is 'n ander vraag. Daar is talle aanduidings dat die wêreld tans welvaart ervaar wat nog nooit van te vore ervaar is nie.
Ek vermoed dat ongeag die mediaan-vordering wat in ekonomiese terme gemaak is, skep die groeiende ongelykheid wat al hoe meer sigbaar word, veral deur sosiale media wat die leefstyle van die rykes en die beroemdes tot in almal se hande stroom, 'n gevoel van vernedering en vervreemding wat statistiek nie kan wegpraat nie. Dis nie dat mense minder het nie, maar dat hulle elke dag voor hul oë sien hoe ander skynbaar moeiteloos en kwansuis onverdiend meer het. Sosiale media dwing mense onwillekeurig tot vergelyking en welvaart word ervaar as iets wat in 'n ander woonbuurt, land of klas ervaar word maar nie self nie. Gevolglik lyk die gesagsorde uitsluitend selfs al gaan dit objektief beter as voorheen. Dáárdie psigologiese gaping laat wantroue groei en mense voel die wêreld beweeg, maar nie saam met hulle nie.
Dit is waarom figure soos Zohran Mamdani, Donald Trump en Nigel Farage soveel politieke sukses ervaar. Elkeen verwoord, op sy eie manier, 'n gevoel dat “gewone mens” vir die stelsel werk, terwyl die stelsel vir ander werk. Selfs al is al drie, op verskillende maniere, self deel van 'n elite. Mamdani as produk van 'n hoogs opgeleide ryk gesin, Trump as miljardêr en Farage as 'n ryk beroepspolitikus en mediafiguur met 'n sake-agtergrond, wat al dekades lank binne die politieke ekosisteem beweeg. Hulle is nie buitestaanders in die letterlike sin nie, maar hulle praat buitestaanderstaal goed genoeg om die ervaring van uitsluiting vir miljoene mense te verwoord. Mamdani se verkiesing en vroeë beleidswrywing in New York Stad wys hoe vinnig “instellings” (polisie, stadsadministrasie, reëls, verwagtings) bots met 'n anti-gesagsorde mandaat. Farage se posisie in die Verenigde Koninkryk, met Reform UK wat volgens berigte selfs in peilings voorloop, wys dieselfde dinamika. Mense ervaar dat die gevestigde orde hulle nie meer beskerm teen lewenskoste, migrasie, en die alledaagse afskaling van sekerheid nie.
Die Weste is nie noodwendig in 'n “ideologiese ommekeer” nie. Dit is eerder in 'n vertrouenskrisis: die gevoel dat die stelsel se beloftes leë beloftes is, en dat beleid al hoe meer bloot op die nuutste gonsbeswaar reageer om die indruk van verandering te skep eerder as om werklik die langtermyn-oorsake aan te spreek.
Suid-Afrika se eie wiel draai ook
Alhoewel dit nie presies dieselfde kwessies behels nie en die konteks anders is, is die onderliggende ooreenkoms tussen Suid-Afrika en hierdie kwale in die Weste die gevoel dat die stelsel of gesagsorde nie vir 'n kritieke massa mense bevoordeel nie. Ek dink ons staan op 'n punt waar die probleme met staatsverabsolutering (daardie drang om alles deur die staat se hand te wil vorm) én die probleme met 'n privaatsektor wat saam met die regeringstroom beweeg albei sigbaar is.
Neem transformatisme oor die algemeen en SEB spesifiek. Ek vermoed baie van die steun vir beide wat begin kwyn, is nie omdat mense skielik tot 'n suiwer beginselstandpunt oor nie-rassigheid bekeer is nie. Dit kwyn omdat mense, ook swart Suid-Afrikaners, kan sien dat die stelsel uitsluitend is en 'n elite bevoordeel. Interessant genoeg wys peilings juis hoe sterk daardie gevoel oor “meriete teenoor rasreëls” kan wees, selfs onder swart geregistreerde kiesers. Die Social Research Foundation se opname-data oor SEB-verwante beleidskeuses dui op beduidende steun vir 'n skuif weg van streng rasgebaseerde aanstellings- en verkrygingsreëls na meriete.
Peilings wys dat die Regering van Nasionale Eenheid as konstruk 'n relatief beter netto-guns as individuele partye toon, terwyl partye wat hulle sterk teen die RNE posisioneer swak netto-guns toon. Die DA se eie data wys ook dat die oorgrote meerderheid van sy ondersteuners die party binne die RNE goedkeur. Ignoreer dus gerus die geraas op sosiale media wat die indruk probeer skep dat die DA onmiddellik uit die RNE moet tree.
Maar die peilings wys ook dat mense briesend kwaad word wanneer die DA se betrokkenheid in die RNE bloot die status quo se masjinerie olie. Dit behoort 'n duidelike aanduiding vir die DA te wees oor hoe om sy betrokkenheid binne die RNE te benader. Nie as simboliese samewerking vir samewerking se onthalwe nie, maar as 'n hefboom vir tasbare hervorming. Sterk teen kaderontplooiing, sterk teen beleid wat toegang tot werk, handel en dienslewering afsper, en sterk teen rassevoorskrifte wat uitsluiting bestendig. Fokus eerder op hervormings wat die stelsel wyer oopmaak, sodat meer mense werklik kan sê dat hierdie orde ook vir hulle werk. Anders voed 'n mens bloot die anti-gesagsorde energie.
'n Mens sien dieselfde patroon by die EFF. Hulle posisioneer hulself as anti-gesagsorde, maar vir al die retoriek bly die kernaanbod in baie opsigte dieselfde as die bestaande transformatistiese paradigma naamlik nóg meer rasgebaseerde sentralisering. Mettertyd het kiesers agtergekom dat die “anti-gesag” hier nie 'n alternatiewe orde voorstel wat meer insluit nie, maar bloot 'n nuwe stel hande wat dieselfde hefboom wil vat.
Dit bring my dus terug na die punt oor stelsels en instellings. Geen gesagsorde bestaan bloot op woorde nie. Dit kort die gevoel dat gewone mense, al is dit onvolmaak, ingesluit voel. Sodra 'n orde te nou en te selfbeskermend raak, groei die teenreaksie en dan maak dit minder saak watter taal die elite praat, hetsy dit “selfbeskikking”, “transformasie”, “regverdigheid”, ensomeer is.
Want die onderliggende ervaring bly dieselfde, naamlik dat die stelsel vir ander sou werk, maar nie vir my nie.
Revolusies vervang dikwels net een elite met 'n ander. Die vraag is dus nie hoe die huidige, rasgedrewe gesagsorde tot 'n einde kom nie, maar wat daarna in sy plek kom, en of dit meer mense gaan insluit as sy voorganger. As die volgende orde net 'n nuwe klein elite skep sal dit soos sy transformatistiese voorganger ook nie lank hou nie.
Nog aflewerings op DinkWeer Donderdag:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
















Dis uitstekend gestel en geskryf. Dankie!