Erfenisdag was nog altyd vir my 'n vreemde en amorfe jaarlikse gebeurtenis.
Jeugdag, Vrouedag en Versoeningsdag se name is ten minste aanduidend van waaroor dit gaan, al is dit ironies dat hulle elke jaar as vakansiedae dien terwyl daar telkens oor die uitdagings met hierdie groepe en begrippe gemor word. 'n Maand ná Vrouedag is daar 'n reeksmoordenaar los aan die Oos-Rand wat vroue vermoor en die media is (weer) vol oproepe om vroue teen geslagsgebaseerde geweld te beskerm. Elke jaar word die jeug se lot ten aansien van hemelhoë jeugwerkloosheid, misdaad en swak onderwys bekla terwyl die ekonomie voortstotter. Hierdie dae kom en gaan, en politici hou toesprake, maar die kern van die probleem word nooit aangespreek nie. Dit bly dae van vertoon waaraan min mense werklik waarde heg.
Maar erfenis is veronderstel om iets meer positief te wees, en makliker om te vier. Want ons almal het een of ander soort erfenis waaraan ons kan vasklou. Die vraag is egter of ons bewus is van welke erfenis gevier moet word, en of dit minder problematies as die ander vakansiedae se betekenis en werklikheid is.
In 'n heterogene samelewing soos Suid-Afrika kan erfenis nie losgemaak word van versoening nie, en daar sit die knoop. Die vermaarde historikus prof. Hermann Giliomee het nog altyd volgehou dat dit belangrik is vir 'n diverse land om respek vir mekaar te koester, ten spyte van die onvermydelike en hardnekkige klowings en politiekery.
Myns insiens word Erfenisdag meestal te reduksionisties benader te midde van onversoenende gedrag deur veral die regering, maar ook ander rolspelers. Dit is hoekom hierdie dag jaarliks nie-amptelik in Braaidag ontaard het, want dit is omtrent die enigste (en onomstrede) gemene deler waarop daar landwyd aanspraak gemaak kan word. Rugby is tewens toenemend iets wat deur die verskeie kulturele, rasse- en etniese groepe in die land omarm word.
Dit is op stuk van sake seker beter as niks en veel eenvoudiger samelewings het al in bloeddorstige konflik verval in die afwesigheid van vertonerige versoeningsfaktore. Dit kan egter nie al wees waarop die breë publiek, asook die onderskeie groepe en subgroepe, terugval wanneer erfenis ter sprake kom nie. Daar kan ook nie van respek sprake wees as plekname soos Graaff-Reinet se name goedsmoeds en onnodig hernoem word nie. Of as geskiedenis subtiel of openlik in geskiedeniskurrikulums op eenogige en oorvereenvoudigde wyses uitgebeeld word nie. Dit is waar versoening en erfenis plek maak vir griewe of ten minste ongeërgdheid.
Erfenis is juis iets wat voortdurend en vir die toekoms geskep word, al het dit per definisie met die verlede en nalating te doen. Wat in 2026 gebeur, het 'n impak op toekomstige erfenis en versoening. Erfenis moet meer behels as eenvoudige maar welmenende gebare en maklike uitweë. Helaas is ons almal skuldig daaraan dat ons nie eers genoeg aandag aan ons eie erfenis gee nie, wat nog ander groepe s’n. Gevolglik bly ons selfbehep, maar op 'n oppervlakkige manier. Baie Afrikaners en Afrikaanssprekendes in den breë weet nie eers hoe hul en deur wie hul taal tot stand gekom het nie. Huidige Afrikaanse sangers met 'n beperkte woordeskat is vir hulle belangriker as die mense wat in die aangesig van enorme weerstand opofferings gemaak het sodat Afrikaans vandag kan bestaan – boonop as 'n gevorderde een.
Die krag van taal moenie geringskat word nie, maar daar moet 'n diepliggende waardering en respek daarvoor wees – veral deur die sprekers self. Hilde Kruger se stuk wys juis uit hoe Takealot op 'n kreatiewe, dog geringe wyse, 'n beleefde buiging in die rigting van taalerkenning maak. Hulle het hul naam in die amptelike tale in die aanloop tot Erfenisdag op afleweringsbokse gebruik. Sy skryf:
“Sonder dat die veranderde handelsnaam te veel van die verbruiker se aandag opeis, word die ontvanger steeds op 'n eenvoudige wyse met taal en identiteit gekonfronteer.”
Ek wil persoonlik sien dat allerlei maatskappye meer doen om hul produkte op deurlopende wyse idiosinkraties aan te bied. Takealot het dit op 'n eenvoudige maar kreatiewe wyse gedoen wat nie sonder meer deur hul mededingers, soos die multinasionale Amazon, begryp sal word nie. Dit is soms lagwekkend hoe selfs plaaslike maatskappye hul nismarkte lomp en verkeerd in hul werklikheidsvreemde reklame benader. En Takealot kan nie bloot hier ophou nie. So, wat is volgende? Hoe gaan hulle erfenis, kultuur en uiteenlopende outentiekheid verder gebruik?
Ek kan nie vir alle taalgroepe praat nie, maar van wat ek van veral Afrikaners se taalgebruik op sosiale media sien, laat my veelal net kop skud. Te veel van ons besig geradbraakte taal met ooglopende spelfoute oor kwessies van verontregting jeens ons, asook ons taal en kultuur. Ons is vrywillig besig om Afrikaans weer 'n kombuistaal te maak in ons gebelgdheid en soeke na geregtigheid. Dit is tekenend van hoe ons vergeet het van die duisende mense – gewoon sowel as bekend – wat oor die laaste anderhalf eeu gewerk het om Afrikaans te standaardiseer, uit te brei en te bevorder sodat dit 'n omvattende en gesofistikeerde pragtaal kan wees.
Dit verbly my dat my vernaamste alma mater, die Universiteit van Johannesburg, nog steeds taalpryse toeken en boonop aan verdienstelike Afrikaanse werke – meer as twee dekades nadat die Randse Afrikaanse Universiteit daarin opgegaan het en die taal by ander histories Afrikaanse universiteite baie meer stief behandel word. Soos Lezli Edgar in haar slotparagraaf skryf:
“Elkeen van hierdie toekennings en tekste dra op hul eie manier die verantwoordelikheid om Afrikaans se verhale van die verlede, hede en toekoms te skryf en vas te vang.”
Hierdie werke val dalk nie in almal se smaak nie en dien straks nisnuuskierighede meer as die massamark, maar dit staan nietemin in die teken van hoe wyd die gehalte en omvang van Afrikaans steeds is. As jy nie daarvan hou om poësie en keurliteratuur te lees nie, lees speurverhale, romans en misdaadfiksie, want dit is alles in Afrikaans beskikbaar. Ek het juis onlangs H.G. Wells se The Invisible Man in Afrikaans vir die eerste keer gelees. Lees ook oor jou eie geskiedenis en erfenis om dit beter te verstaan. Ons as skrywers en meningsvormers in Afrikaans het daarom ook 'n plig om kreatief en voortreflik, maar nie oordrewe hoogdrawend nie, met die taal om te gaan. Die gewone leser moet aanklank kan vind.
Professor Nils Gilman stel die dekades lange dilemma van die universiteitswese (altans in Amerika, maar met ongetwyfelde raakpunte in Suid-Afrika en die Weste) op treffende en sobere wyse aan die bod. Universiteite behoort plekke van akademiese vryheid, oop maar robuuste gesprek en empiriese ondersoek te wees. Hy beskryf die erfenis en aanloop van elite-universiteite se politieke skeidslyne en hoe, anders as wat veronderstel word, die radikale linkses as minderheid verkeerdelik die beeld van woke-instellings geskep het. Helaas het hierdie universiteite (en die meerderheid liberales) tussen regse en linkse ideologiese vure beland het. In Suid-Afrika is daar nie só 'n regse teenreaksie nie en ons (altans openbare) universiteite het in transformasie-eksperimente verander – met al die woke-bagasie wat daarmee saamgaan.
Daniël Eloff se uiteensetting van die ANC se treurmare word weerspieël in hul sigbaarheid in die aanloop tot 4 November se plaaslike verkiesing. Ek bly in die Boland, kom gereeld in die Kaap en was onlangs vir meer as 'n week in Johannesburg en Ekurhuleni. Die verbeeldinglose “Vote ANC”-plakkate kan slegs plek-plek in laasgenoemde metro’s gesien word. Ek dink persoonlik nie dat ons nog van “die regerende party” gepraat moet word wat die ANC betref nie. Hulle is toenemend net nog 'n party-in-regering. Hulle is deel van ons erfenis, en dis waar hul houvas moet bly: In die verlede. Nie alle erfenis is goed en verdien bewaring nie. Wat 'n post-ANC toekoms inhou, is nog onseker maar dit kan erger wees as ons nie ons mees basiese en maklikste reg uitoefen nie. Dat verandering wel aan die gang is, is gewis. Gaan stem dus gerus op 4 November.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.














Braaidag was ‘n poging om iets wat alle inwoners van Suid-Afrike werklik in gemeen het te gedenk. Dit was egter ‘n beperkte sukses, want nie almal braai nie. Een ding wat almal wel in gemeen het, ryk en arm, Afrikaner tot Zulu, is dat ons almal 15% BTW betaal. Om werklik inklusief te wees, maak dit eerder sin om die invoer van BTW te herdenk.
Baie goeie oorsig, Eugene.