Die ou gesegde lui “tyd genees alle wonde”. Is dit regtig so? Neem wag werklik die wonde weg? Die implikasie van hierdie gesegde is dat die verloop van tyd soos salf oor enige gebrokenheid vloei, en dit op een of ander magiese manier regtoor. Is dit nie so dat tyd maar net afstand tussen jou en jou wonde skep nie? Dalk is dit 'n flou tipe genesing, maar hoe keer tyd dat jy nog wonde opdoen? Hoe voorkom tyd dat oop wonde ontsteek? Miskien is dit tyd om hierdie ou gesegde te begrawe, omdat ons dit nie meer nodig het nie.
Die teenoorgestelde ingesteldheid, dus, die aanname dat tyd en wag op sigself geen wond kan skoonmaak of heelmaak nie sou miskien klink soos Generaal Maximus se woorde aan sy legioen ruiters in Gladiator: “Wat jy in die lewe doen, eggo deur die ewigheid”. Hier word juis teen stagnante stilheid en versigtig wag gewaarsku. Die idee is dat opstaan en doen altyd 'n groter impak het as handevou en wag. Die implikasie is dat verantwoordelikheid die eerste tree in die rigting van genesing is.
Selfs beter as Generaal Maximus se fiktiewe woorde is die woorde van die Duitse prediker en teoloog Dietrich Bonhoeffer, wie se oortuiging in die plig van gelowiges om verantwoordelikheid te neem hom uiteindelik sy lewe gekos het. In April 1933, enkele maande voordat Adolf Hitler aan bewind sou kom in Duitsland, skryf Bonhoeffer in 'n opstel onder die opskrif Die Kirche vor der Judenfrage (Die Kerk en die Joodse vraagstuk) die bekende woorde:
“Wir sollen nicht nur die Verletzten unter dem Rad ‚verarzten‘, sondern dem Rad selbst in die Speichen fallen.”
Sy woorde kan vertaal word na “Ons moet nie net die slagoffers onder die wiel versorg nie, maar self in die speke van die wiel val.” Bonhoeffer se benadering was eenvoudig: Ons kan nie maar net staan en kyk nie, soms moet ons 'n speek in die wiel druk, soms moet ons die verkeerde daad trompop loop en stopsit.
Dit bring my by verlede week se uitgawe van OntLaer. Dit is interessant om op te merk dat daar 'n optimisme in Suid-Afrika opsteek. Dit is so asof die bevolking besef dat elkeen se klein bietjie, elkeen wat self daagliks die wiele van verval stopsit, momentum begin kry
Piet du Plessis en Bouwe van der Eems pak die bul by die horings aan: Vir wie moet ons stem, en hoe gaan dit enigsins met ons partye, veral ons grootste party? Vir baie dekades het heelwat kiesers geglo dat hul stemme geen verskil sal maak nie, dat dinge nou maar is soos dit is.
Na baie swaarkry en baie onnodige agteruitgang lyk dit nou uiteindelik asof dit tyd vir iets anders in Suid-Afrika is. Hoe presies daardie toekoms en daardie ander opsie lyk, daaroor moet ons nog besluit, maar dat die wiel stopgesit moet word, daaroor blyk al hoe meer mense seker te wees.
Francois Lion-Cachet maak hierdie punt selfs sterker. Hoeveel filosowe is daar wat lewenslank probeer om studente en lesers van 'n idee te oortuig, dikwels sonder skynbare sukses. Tog gaan hierdie idees dikwels nie weg nie. In sy Hofbulletin herinner Francois die leser dat 'n goeie idee soms sy tyd vooruit is, maar nie noodwendig wegraak nie. Miskien soos die goue ringetjie uit Lord of the Rings wag 'n goeie idee soms net vir iemand om dit van die rivierbodem af op te tel en in glorie te herstel.
“Om op die koppie te skryf, veroorsaak dat massakommunikasie en mikrokommunikasie mekaar ontmoet en op 'n kontrasterende wyse saamwerk.”
Hilde se rubriek oor kreatiwiteit en koffie sluit juis by hierdie punt aan omdat dit 'n stewige slukkie KI-kommentaar verweef. Dit is nie masjiene wat die klein bietjie vir ons gaan doen nie. Al help tegnologie ons, die menslike hand gaan altyd van groot belang bly, die klein, unieke nota wat KI nooit met dieselfde gevoel sal kan namaak nie sal, ten minste vir ons, altyd vol van betekenis en simboliek bly.
Aan Eugene se stuk het ek moeilik gelees, juis omdat dit soveel herinneringe weer na vore gebring het. Ek was agt jaar oud toe 9/11 gebeur het, en dit voel amper onwerklik hoe groot die rol van daardie een dag op die afgelope kwarteeu was. Verkiesings, politieke golwe en teengolwe, oorloë, en hoeveel sterftes, alles in een of ander manier gekoppel aan een dag, twee torings, en 'n tsunami van gevolge. Mens wonder soms hoe die wêreld sou lyk as die vliegtuie gestop kon word, maar sulke denke maak mens mal. Juis in daardie geval het tyd die wonde nie genees nie, maar skynbaar hoe langer hoe meer besmet laat raak met allerlei ander euwels.
Ash Müller se kommentaar oor huispryse vorm deel van groterwordende kore jongmense wat dit onmoontlik vind om hul maandelikse uitgawes te dek. Hoe langer hoe meer raak dit al hoe moeiliker om die dak oor jou kop te hou.
Hügo Krüger se stuk is 'n goeie samevatting vir die idee dat opstaan en getel word meer beteken as sit en wag. Dit is al vir dekades duidelik dat die Mercator-wêreldkaart die res van die wêreld baie groter laat lyk as wat dit is, met die gevolg dat Groenland hom verbeel het hy is so groot soos Afrika. Baie druk uit baie oorde, en die konstante aanspraak op feite en waarheid het uiteindelik tot verandering gelei. Afrika het die storie uit die boom uit gekyk en gemeen: Aikona! Tot hiertoe en nie verder nie. Dit was nie tyd wat hierdie feitelike onegtheid gekorrigeer het nie, dit was druk, volume en daadwerklike optrede.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
















