DinkWeer Donderdag | Wanneer alles uitmekaarval
Yeats en die ou waarheid van nuwe orde.
Die eerste oktaaf van W.B. Yeats se 1919 gedig The Second Coming is dalk die naaste letterkundige ekwivalent aan Mike Tyson se 1988 boksgeveg met Michael Spinks. Soos Tyson se houe vuur Yeats die volgende versreël af nog voordat die arme leser kans gehad het om die vorige een te verwerk. Die resultaat is een van die mees indringende strofes in die westerse letterkunde:
Turning and turning in the widening gyre
The falcon cannot hear the falconer;
Things fall apart; the centre cannot hold;
Mere anarchy is loosed upon the world,
The blood-dimmed tide is loosed, and everywhere
The ceremony of innocence is drowned;
The best lack all conviction, while the worst
Are full of passionate intensity.
Die valk se kring rondom die valkenier word groter en groter, en aanvanklik lyk dit indrukwekkend. Kyk net van hoe ver af kan die middelpunt die orde behou - kyk net hoe stiptelik! Maar skielik, plotseling, is die kring te groot, die valk is verlore, en alles val uitmekaar. Vir Chinua Achebe, een van Afrika se vernaamste outeurs tot nog toe, was hierdie uitbeelding van verlore orde en gevalle magsentrums so raak, dat hy sy 1958 boek juis Things Fall Apart genoem het. Die bekende derde reël is nog besig om jou ingewande te herorganiseer, dan tref Yeats jou met “The ceremony of innocence is drowned” - weg is die geveinsdheid, weg is die opvoerigheid, weg is die valse hoflikheid, want die hof het sy mag oor die mense verloor. Nes jy teen die toue terugsak en dink “meer kan ek nie verdra nie” kom die kishou: “The best lack all conviction, while the worst are full of passionate intensity”. Wat Yeats raaksien is reeds in antieke tye deur Plato raakgesien: Die beste leiers het dikwels, veral in die aanvanklike fases van verval, geen belangstelling in invloed of mag nie. Die slegste mense ontdek skielik, sodra die orde geval het en die goeie mense almal padgegee het, hulle plastiekruggrate en hulle hoofseunstemme (of Sondagkoerantpenne).
Yeats skryf natuurlik na afloop van die Eerste Wêreldoorlog, 'n tyd so vol rampe en peste en krisisse en omwentelings dat Totius of Eugene Marais nodig sou wees om die vlak van katastrofe volledig in Afrikaans uit te druk. Maar hy verduidelik nie 'n eenmaligheid nie. Soos wat orde in die eerste helfte van die twintigste eeu oral platgeval het, so het dit aan die begin van die negentiende eeu platgeval (vra gerus jou gunsteling KI oor 'n kêrel met die naam Bonaparte). Ook in die agtiende eeu, toe kolonies opgestaan en hul juk afgeskud het, ook in die sewentiende, toe Europa homself uitmekaargeruk en weer aanmekaargeplak het, ook in die sestiende, toe die pous uit die woud uit geskop is, en so gaan dit aan... Orde val plat, patete kry platforms en bou groot katedrale vir hulself waarin veel geraas gemaak kan word, en gewone mense kry skielik baie swaarder as tevore.
As Yeats se gedig net een oktaaf beslaan het, sou dit die leser verpletter, maar dit is nie. By hom gaan dit juis oor verlossing en Verlosser, 'n wederkoms, 'n uitkoms wat op pad is. Hy is optimisties dat alles wat skynbaar aan flarde is nie 'n einde verteenwoordig nie, maar 'n nuwe begin. 'n Herbesin, 'n nuutheid. Soos wat ek Vrydagoggend deur die week se OntLaer-artikels gerol het, het die nuwe idees, die herbesinning wat voor ons oë afspeel my veral getref.
“Hoe verskillend die uitkomste mag wees, hulle wat in die burgerlike samelewing iets wil bydra kan dit doen! In elke prestasie is 'n pad tot onsterflikheid gebaan, glo ek, waar die daad leef en vorentoe beur, selfs al sou die naam van sy skepper vergete bly.”
In Hercules Boshoff se vertaling van Schiller se intreelesing is daar nou vir die Afrikaanse leser nuwe toegang gegee tot een van die mees indrukwekkende uiteensettings van 'n lewende en dinamiese beskouing tot geskiedenis. Hierdie massiewe toespraak (en eweneens die massiewe werk van vertaling) toon juis dat die verlore valk en die moedelose valkenier nie die einde van die verhaal is nie, net die einde van die paragraaf. Vir die OntLaer-leser wat nog nie die uur belê het wat nodig is om deur ons lankste plasing tot nog toe te lees nie, is my raad: Hou hierdie skakel, dit is die lees werd!
“As ek hom reg verstaan meen Slovo dus dat kulture mag blom, maar nie so welig dat hulle hul eie skaduwee werp nie.”
Ek het lekker aan hierdie stuk geskryf, en is dankbaar vir die positiewe reaksie wat dit ontlok het. Vir die leser wat ernstig daaroor is om die ANC, en deels die EFF, ten diepste verstaan sou ek egter die Slovo-artikel waarop ek reageer, voorstel. Volgers glo blindelings wat hul gunsteling kommentators kwytraak, en verkoop die idees van podsenders as hul eie; leiers lees immers self die brontekste, en dink vir hulself. Piet du Plessis se analise van meervoudige wêreldbeskouings wat konstant op ons politiek inspeel lees lekker saam met Slovo se stuk.
“In 'n tyd waarin kunsmatige intelligensie toenemend die kreatiewe industrie beïnvloed, herinner Polaroid se veldtog die publiek daaraan dat tegnologie wel nuwe moontlikhede skep, maar nie die emosionele, fisiese en simboliese waarde van werklike menslike ervarings kan vervang nie.”
Is daar enigiets wat die ou orde so vinnig aan vlarde geskeur het soos KI? En hoe gaan die nuwe orde lyk wat KI veroorsaak? En hoeveel van die ou orde gaan oorbly? Vir al hierdie vrae sal ons binnekort antwoorde hê. Intussen is ons dankbaar dat Hilde ons op hoogte hou!
“Gesinne waarin een ouer hoofsaaklik vir die kinders sorg, vind dit dikwels makliker om groter gesinne te onderhou. Sulke gesinne raak egter skaarser. Hierdie faktore, tesame met stygende lewenskoste en veranderende gesinsvoorkeure, dra by tot dalende geboortesyfers.”
Baie slim mense met baie duur papiere teen hul kantoormure het allerlei menings oor dalende geboortesyfers, maar soms sny Occam se skeermes raak en is die mees eenvoudige antwoord die korrekte een: Solank as wat jongmense mekaar nie kan oortuig om gesinne te begin nie. Dit is so eenvoudig soos dit. Bouwe se prinsipiële kritiek en advies herinner mens dat nie alle tydsgeeste se platval noodwendig sleg is nie…
“Die Kaap die Goeie Hoop, eens bloot 'n voetnota in moderne logistiek, het weer 'n onontbeerlike alternatief geword.”
Die wêreldorde wat tussen 1944 en 1948 in wording getree het, en homself tussen 1988 en 1992 versterk het, is weer besig met ernstige herorganisasie. Dit is moeilik om met Hügo se analise te stry - soos wat dit in die Middeleeue was, so sal dit weer wees: As deur die Midde-Ooste nie meer 'n opsie is nie, dan is rondom die Kaap die beste alternatief.
Almal eer die pioniere
As die ou gesegde waar is dat moeilike tye 'n sterk generasie totstand bring, dan is daar goeie nuus vir die jong geslag, beide in Suid-Afrika en wêreldwyd, omdat ons die voordeel van chaos mag beleef. Of die valkenier van huidige orde sy valk weer onder beheer gaan kry 'n oop vraag, maar dat die wêreld tussen die valk en valkenier homself vinniger as ooit tevore verander, wel dit is sommer net 'n feit.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.














