DinkWeer Donderdag | Onthulde voorkeure as politieke leesbril
Die ware toets van 'n samelewing lê nie in sy ideale nie, maar in sy optrede.
Kort voor die aanvang van die Tweede Wêreldoorlog, in 1938, publiseer 'n 23-jarige nagraadse student by Harvard 'n kort, byna parmantige artikel wat die ekonomiese wetenskap dekades later sou verander. Paul Samuelson was 'n Amerikaanse ekonoom wat later die eerste Amerikaner sou word wat die Nobelprys in Ekonomiese Wetenskappe ontvang. Met die toekenning van die prys in 1970 het die Sweedse Koninklike Akademie verklaar dat Samuelson meer as enige ander eietydse ekonoom gedoen het om die vlak van wetenskaplike analise in die ekonomiese teorie te verhoog.
Samuelson het dit gedoen deur 'n nuwe dog eenvoudige common sense-punt oor menslike gedrag te maak. Hy het aangevoer dat sy dissipline te veel tyd spandeer om mense se koppe te probeer lees. Ekonome het teorieë gebou op wat verbruikers kwansuis “verkies”, “begeer” of “nuttig vind”, alles onwetenskaplike begrippe, volgens Samuelson, wat niemand kan sien, weeg of toets nie. Samuelson se voorstel was om die sielkunde uit die ekonomie te haal en na die verbruiker se inkopiemandjie te kyk. As iemand week na week appels koop terwyl die lemoene langsaan goedkoper is, het hy sy voorkeur onthul deur desnieteenstaande die appel te koop. En so het die konsep van revealed preference (oftewel onthulde voorkeure) ontstaan.
Vir ons gewone leke beteken dit eenvoudig dat wat mense sê een ding is, maar dat hul gedrag bepalend is. Die ou idee van die daad by die woord voeg is betekenisvol, juis omdat die daad nie altyd die woord weerspieël nie.
Dit is nie net 'n nuttige manier vir maatskappye om produkte of dienste te verkoop nie. Dit is ook 'n sinvolle ontledingsinstrument vir enigiemand wat die politiek, die kultuur en die instellings rondom hom wil verstaan. Ons moet nie vra wat 'n samelewing oor homself sê nie, maar eerder kyk waarvoor hy betaal, wat hy doen en wat hy verdra.
Wanneer een van ons aan die beurt is om die week se DinkWeer Donderdag-artikel te skryf, gebeur dit dikwels dat ons die vorige week se artikels vir 'n tweede keer lees en dikwels dan met 'n ander bril as ons redaksionele rooipen.
Hierdie week was daardie tweede bril, sonder dat ek dit so beplan het, Samuelson s’n. Op elke vlak van die samelewing — van die spaza-winkel tot die Grondwet — het die gaping tussen die voorgestelde voorkeur (dit wat gesê word) en die onthulde voorkeur oopgegaap.
Begin op straatvlak, by Piet du Plessis se artikel oor die nadraai van March and March. Die optogte teen onwettige immigrante het townships weer tot kookpunt gebring, en die voorgestelde voorkeur was luidkeels dat die “vreemdelinge” moet gaan. Maar Piet, wat die township-leefwêreld van naby ken, voorspel die einde van die verhaal met die kalmte van 'n man wat die film al gesien het. Die stof sal gaan lê, die regering sal weer moeg raak vir sy plig, en die inwoners sal weer by die vreemdeling se spaza koop, want sy brood is goedkoper en sy winkel is oop. “Was, spoel en herhaal,” sluit hy af. Homo economicus marsjeer soggens en koop smiddae. Die trollie wen elke keer teen die plakkaat. Ek vermoed Samuelson sou met Piet se artikel saamstem.
Verlaat ons die township-straat en kyk na die welvarende Westerling met sy waterfilter. In my eie (toegegee, té lang) stuk oor mikroplastiekpaniek het ek probeer wys dat die voorgestelde voorkeur (“ek is bekommerd oor my gesondheid”) nie die onthulde een is nie. Die verbruiker wat 'n premie betaal vir 'n BPA-vrye bottel waarvan die vervaardiger bloot die een bisfenol met 'n byna identiese ander een vervang het, koop nie risikoverlaging nie. Die welvarende Westerling koop 'n gevoel van ingeligtheid en stuur 'n sein aan sy vriende dat hy na die regte podsendings luister. Die onthulde voorkeur is status, nie gesondheid soos die woorde probeer voorgee nie. Intussen is die vraag vir 'n kwart van die mensdom nie of daar mikroplastiek in die water is nie, maar of daar enigsins water is.
Kyk ons dan na Hilde Kruger se stuk oor die Empire State Building. Handelsmerke bely graag dat hulle storievertellers is, bouers van eie narratiewe en kurators van diep betekenis. Maar toe twee rooftoppers onwettig teen New York se beroemdste antenna uitklim en verloof raak, het Canva, Duolingo en selfs Jack Parow binne ure hul eie boodskappe op daardie banier geredigeer. Hilde beskryf hoe bemarking beweeg het “van storievertelling na storie-aanpassing”. Die voorgestelde voorkeur is oorspronklikheid, dit is waarmee byna elke groot korporasie op sy webtuiste spog. Maar die onthulde voorkeur is aandag, teen enige prys, op enige gebou, agter die nuutste tendens aan, sodat hulle ook die golf kan ry.
By Bouwe van der Eems se vraag oor wie die waardes bepaal wat aan kinders oorgedra word, verskuif die toets na die instellings self. Op papier is die voorgestelde voorkeur dat die Suid-Afrikaanse Grondwet en internasionale norme vir ouers “die eerste reg” gee om hul kinders se opvoeding te kies, en selfs 'n kerkskool adverteer sy Christelike etos netjies op hul webwerf. Maar kyk na die onthulde gedrag en 'n mens besef daardie einste skool volg 'n kurrikulum wat ander waardes voorskryf, 'n BELA-wet ketting tuisonderwys aan die staatsleerplan vas, en die meeste klaskamers leer iets heel anders as wat die skoolhoof se opedag-toespraak belowe.
En kyk ons selfs na die Grondwet self, sien 'n mens hierdie spanning tussen voorgestelde voorkeure en onthulde voorkeure. Barend Wesseloo se betoog dat die reg om 'n Sionis te wees óók grondwetlik beskerm word, is in wese 'n onthulde-voorkeure-toets vir 'n hele regsorde. Die teks van Artikels 15 en 19 bely dat álle vreedsame oortuigings gelyke beskerming geniet, of hulle gewild is of nie. Maar 'n grondwet word nie in sy teks getoets nie, dit word in sy toepassing onthul. Wanneer een wettige politieke identiteit stelselmatig in 'n paaiboelie omskep word — 'n houer waarin elke frustrasie van kapitalisme tot kolonialisme gegooi kan word — dan verklap die samelewing dat sommige oortuigings in die praktyk minder gelyk is as ander.
Dit is die ongemaklike uitvloeisel van 'n regskultuur waarin grondwetlike beginsels nie meer volgens hul gewone leeslogika toegepas word nie, maar deur 'n transformatistiese lens, wat regsgeleerdes eufemisties “transformatiewe grondwetlikheid” noem. Onder daardie lens is die vraag nie wat die teks sê nie, maar hoe die verwronge gedagte van transformatisme, bevorder word.
Samuelson het die ekonomie geleer om die inkopiemandjie bo die mens se woorde te vertrou. Verlede week se skrywers het, elkeen op sy en haar eie terrein, dieselfde gedoen. Hulle het verby die verklaarde weergawe gekyk (die plakkaat, die etiket, die handelsmerkbelofte, die webwerf-etos, die grondwetlike teks) na die gedrag daaronder.
Dit is 'n tema waarby ek al vantevore op hierdie blaaie stilgestaan het. In “Groot Geraas vs. Stil Bouwerk” het ek geskryf oor hoe ons politieke energie aan die geraas spandeer word terwyl die werklike bouwerk elders, stil, gebeur. En in “Hoekom debat belangrik is” dat ons politiek op die rantsoen van slagspreuke leef, woorde wat binne die eie groep sin maak, maar nie 'n ordentlike kruisverhoor oorleef nie. Onthulde voorkeure is bloot die ekonoom se weergawe van dieselfde les: die geraas is goedkoop, die bouwerk is duur, en 'n mens leer meer uit wat gebou word meer as uit wat geskree word.
Selfs OntLaer se lesers onthul immers ook hul voorkeure. Julle lees tot onder aan lang stukke, julle skryf terug, julle ondersteun OntLaer se beskeie poging tot die verdieping van deurdagte bedagte debat in Afrikaans. Vir die onthulde gedrag van die duisende wat maandeliks hierdie en ál OntLaer se inhoud lees, sê ons dankie.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.














