Almal van Machiavelli tot Churchill en 'n reeks vaalseun beleidboere kan aldus my aanlynsoektogte aanspraak maak op die aanhaling, “never waste a good crisis.” In een of ander variasie.
Daar is ook minder roemryke aangehaaldes oor die krisisverskynsel. Soos James Callaghan, Britse premier tydens die laat-1970’s, wat te midde van 'n rekordkoue winter en weke se stakings op tuisbodem aangekom het met geneogsame ontkenning van dat Sun-joernaliste 'n briljante opskrif kon kies: “Crisis? What crisis?”.
Callaghan se bekende krisis-skeppende ontkenning van ooglopende nasionale krisisse het amper niks op ons regeerders hier te plaatse nie. Dit illustreer wel hoe krisisse die moederskoot van nuwe betekenisgeleentheid vorm, iets waarvoor Hegel 'n oog gehad het. Callaghan se onboetvaardigheid het gelei tot Margaret Thatcher en die Konserwatiewe Party se oorwinning van 1979. 'n Mens kan selfs sê dat Callaghan se doppie geklink is deur die 1975 Supertramp progrock album Crisis? What Crisis?; dit kon nie te ver van die Sun redaksie se kreatiewe bewussyn af gelê het nie.
Vir suidelike Afrika het Thatcher se opkoms natuurlik baie krisiswendings meegebring; onder haar leiding het die Rhodesiese Bosoorlog na aanleiding van die 1979 Lancaster House-ooreenkoms tot 'n einde gekom. Haar stok-en-wortel benadering tot diplomasie met Pretoria en apartheid is die onderwerp van moderne revisionismes en ouer konsensus, maar in die 1980’s het die voorafgaande streekskrisisse en -wendings nuwe betekenisraamwerke afgedwing, waarbinne die Suid-Afrikaanse regime gewoon moes leer loop.
Die krisis van kerk voed die vergestalting van kuns, wat weer nuwe vrae en invalshoeke opper. Hilde Kruger skryf oor hoe die argitektoniese openheid en ligvloei van 'n skadulose kerkgebou illustreer hoe sentrale gemeenskapsneste nie meer in 'n pluraliteit van samekomsbewusthede sin maak nie, maar dat die sin vir gemeenskap nie so maklik ondergekry word nie.
Samekoms lyk en klink dalk anders, maar die metafoor van die kerk as sentrale plekrigter bly voortbestaan in die psiges wat nuwe vorme van samekoms, skakeling en gemeenskap voortbring.
Miskien is daar krisis in die onvermoë van taal om die grense van die krisisoomblik te omskryf. Aan die hand van Tom Dreyer se magistrale Hertzogpryswenner digbundel Brief op veertigduisend voet (2026), redeneer Hercules Boshoff dat die verlede nie oorromantiseer moet word nie, maar die toekoms nie blindelings optimisties ingevaar moet word nie.
Die teengedagte is seker dat taal ons soms lei tot oorromantisering van verlede en toekoms. Kan taal in die onsekere uur enigsins 'n eerlike blik op die werklikheid bied, benewens om die wendings en wankelinge van die tyd in die gepaste pathos tuis te bring?
Piet du Plessis en Daniël se valensie op krisis staan verbonde in die manier waarop (ek hoop) soveel kiersers vanjaar hul kieskeuses sal rig. Die ANC verkeer in totaal selfgemaakte permakrisis, wat in lagwekkende desperaatheid vergestalt en sodoende die private twyfelings van soveel van hul kiersers behoort te roer. Sal dit aanroer tot die punt dat die plaaslike verkiesing ‘n sonnewending vir plaaslike regering in Suid-Afrika meebring? Volg 'n mens Daniël se ontleding oor die vulkaniese aard van onderlinge twyfel in oorhoofste konsensus, is die ANC-meerderheidsgreep waarskynlik op sy laaste bene.
Wat my betref is die ANC se vernietiging van onderwysgehalte op industriële skaal amper ‘n soort misdaad teen die mensdom. Bouwe van der Eems voorsien in sy reekse artikels oor onderwys hoe die sentrale krag van ouerskap in onderrig nuwe wendings gaan meebring in hoe verswakkende staatsgesentreerde onderrig en leer gaan uitsien.
Ons sien uit na nog gedagtes oor onderwys in Suid-Afrika, wat beslis in krisis verkeer, maar inderdaad onderwerp is aan kragte wat nie sommer goeie wendingsgeleenthede agterlaat nie.
Vorige weke se DinkWeer Donderdag:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.














