As opvoeder wat met Afrikaanssprekende kinders van 12-18 jaar werk, is ek die afgelope aantal jare al geskok oor die skrikwekkende verarming van woordeskat-omvang. Dit het 'n beduidende invloed op leerders se vermoë om met begrip te lees.
Ek het tot op hede nog nooit 'n kundige wat op radio of in die pers oor hierdie onderwerp skryf of praat hoor verwys na die gebrekkige Afrikaanse woordeskat van die gemiddelde Afrikaanssprekende kind nie. Ek gee een voorbeeld uit my arsenaal van opgetekende voorbeelde wat spruit uit my daaglikse interaksies met Afrikaanssprekende kinders: In die sin “Die kat met die swart en wit pels lê op die mat.” Waarna verwys “pels”? Die antwoord? Na die kat se vriende - “pals” in Engels, wat presies soos “pels” in Afrikaans klink.
Ek is ernstig besorg oor die toekoms van Afrikaans. My hoop is dat hierdie meningstuk die kundiges en kurrikulumontwikkelaars laat dink oor wat lei tot taalverdwyning en woordeskatvorming stuit.
Taal en onderdrukking
Die stap om 'n taal as gereedskap van onderdrukking te gebruik, is - die morele aangesig daarvan buite rekening gelaat - baie effektief. Wanneer 'n taal deur een groep gebruik word om 'n ander groep te onderdruk word daardie taal gesien as die instrument van onderdrukking. Die onderdruktes identifiseer die klanke van daardie taal met onderdrukking, uitbuiting en dwang. Veral as die onderdrukte groep gedwing word om daardie taal te gebruik om werk te kry, bevordering te kry, of as gelyke gesien wil word.
Die onderdruktes wat die taal nie as moedertaal aangeleer het nie, praat dit gewoonlik met 'n aksent. Dus is dit nie eens 'n vrywaring van onderdrukking om die taal te kan gebruik nie. Om die waarheid te sê, selfs onderdruktes wat die taal kan gebruik kan nie deur die taal te gebruik hulle onderdrukking ontsnap nie, want hulle aksent is 'n teken dat hulle nie moedertaalsprekers is nie.
Maak die taal cool
In 'n geglobaliseerde wêreld loop enige taal wat nie 'n wêreldtaal is nie, die risiko om te kwyn, en selfs te verdwyn. 'n Taal wat nie status het as algemene gebruikstaal nie, staar groot risiko in die gesig.
Alhoewel 'n taal strenggesproke slegs as “uitgesterf” beskou kan word wanneer dit deur niemand as 'n algemene, alledaagse kommunikasiemiddel gebruik word nie, spreek dit vanself dat tale wat deur 'n klein of krimpende groep mense gepraat word, waarskynlik nie as florerend beskou kan word nie. Wat dikwels gebeur wanneer 'n taal begin kwyn, is dat sprekers dit probeer opwek deur dit cool te maak. Die pogings tot opwekking kan die teenoorgestelde uitwerking hê. Alhoewel nie honderd persent suksesvol nie, is die Nuutskepping 'n handige wapen in die arsenaal van strategieë om 'n taal te laat uitsterf. Veral nuutskeppings wat nie spontaan ontwikkel nie, maar deur akademici, politici, taalkundiges en radio-omroepers vervaardig word, het die potensiaal om effektief by te dra tot die afwater en kwyn van die taal.
Woorde soos potgooi, kuifiekoffie (vir Cappucino); hondtrovert; versuimspesialis; smaakmaker en blitsdokkie is voorbeelde.
Gewoonlik is dit 'n eksklusiewe groep wat hierdie woorde gebruik, en dit vat nie pos onder die meeste gebruikers nie. Die idee is om die taal te laat groei, maar as die woorde nie posvat by die man op straat, in taxis en rondom braaivleisvure nie, word dit nutteloos. Dit lyk pragtig op die webblad van die Afrikaanse departement van die universiteit, en is 'n lekker vraag in die matriekeksamen. En dis al.
Die volgende manier waarop die taal cool gemaak word, is meer dodelik vir die taal as die pogings van akademici en onderwysers – maak die taal cool deur dit nie suiwer te praat nie. Ons gaan kyk 'n show. Die game was amazing. Ek is so blessed. Deur die taal cool te maak word die bestaande woordeskat afgewater. Daar is niks pretensieus aan “vertoning” of “konsert” nie. Tog word dit nie algemeen gebruik nie.
Daar is 'n horde Afrikaanse woorde vir “amazing”, maar niemand doen die moeite om te dink watter een om te gebruik in plaas van die Engelse nie. Om te sê jy is geseën(d) het net soveel, indien nie meer, trefkrag as om blessed te wees.
Maak die taal cool en dis nie lank nie, of dit raak onherkenbaar – die eerste stap na uitsterwing.
Gevare van uitsluitelike toeëiening
As jy wil hê 'n taal moet kwyn, of uitsterf, koppel dit aan die identiteit van 'n spesifieke kultuurgroep, wat ook eksklusiewe politieke aspirasies het.
Om jou poging tot taaluitsterwing ekstra oemf te gee, maak daardie taal die hoof kommunikasiemiddel van idees wat 'n groot deel van die land se populasie as uitsluitend en tekenend van die bevoorregting van daardie groep sien. As jy dodelik doeltreffend wil wees, laat die politieke ideale van daardie groep nasionalisties en uitsluitend wees. Vir maksimum effektiwiteit, laat daardie groep ook die voormalige kolonialiseerders of onderdrukkers wees.
Afrikaans word tot so 'n mate met Afrikaners identifiseer dat die taal en naam vir die kultuurgroep van mekaar afgelei is. Mense wat die taal kán gebruik vermy dit in sommige situasies omdat hulle nie met die sprekers van die taal (of hulle politieke ideale) geassosieër wil word nie, en dit sal beslis nie hulle moedertaal word nie. Om die waarheid te sê, liberaalgesinde moedertaalsprekers verkies om hulle kinders in 'n wêreldtaal soos Engels te laat skoolgaan, juis omdat Afrikaans met konserwatisme assosieër word.
Hierdie reël geld vir moedertaalonderrig en tweedetaalonderrig. Tale wat nie internasionaal gebruik word nie, en wat nie deel is van die sosiale-media kultuur van jongmense nie, is almal bedreig deur die oorheersing van Engels. Daar is nie vermaak in die moedertaal beskikbaar nie, en dit wat wel beskikbaar is word nie na gekyk en geluister nie, omdat die aanbod in Engels soveel groter is. Die internet is Engels. Jongmense se taaldieet word deur sosiale media bepaal, en almal weet dat Engels die voertaal in baie werksomgewings is.
Inheemse tale word bedreig deur die afname in leeskultuur, en die effek van kunsmatige intelligensie. Meeste skoolgaande kinders ouer as twaalf, en alle studente, gebruik kunsmatige intelligensie om tekste namens hulle te skep. Hulle hoef nie eens in hulle moedertaal te dink nie, want KI het Afrikaans ook al bemeester. Universiteite probeer tegnologie gebruik om KI te identifiseer, met gemengde sukses. Skole het nie maniere om leerders se werk te monitor nie. Leerders dink dus nie in hulle moedertaal nie.
En wat doen die ontwerpers van skoolkurrikulums? Hulle ontwikkel kurrikula wat kinders mateloos verveel, en irrelevant is. Buiten as jy onderwyser of dosent in tale is, wanneer laas het jy in jou beroep nodig gehad om 'n gedig te ontleed? Hoe noodsaaklik is sinsontleding in die uitvoer van jou dagtaak? Onthou jy die dag toe die opstel wat jy oor Onderwêreld geskryf het, die verskil gemaak het tussen 'n verkoop deurhaak of nie?
Kinders is nie dom nie. Hulle wéét die werk is irrelevant. Die toppresteerders leer die essays uit hulle kop sodat hulle die akademiese balkie kan dra. Die res (wat die oorgrote meerderheid is) frustreer die arme onderwysers. Wanneer dit kom by die uitwissing van 'n taal is dit onverbeterlike praktyk om die tweedetaal kurrikulum feitlik identies aan die hooftaalkurrikulum te maak.
Skryf gedigte voor van digters van 'n eeu gelede, soos Totius en NP van Wyk Louw. Maak Kringe in 'n bos die voorgeskrewe werk. Deur dit te doen verseker jy dat die kinders nie net meeste woorde wat gebruik word nie verstaan nie, maar ook geen begrip het van die milieu en historiese konteks van die werke nie.
'n Meesterplan vir Selfondermyning
Die meesterplan van hierdie strategie is om die kurrikulum so ver buite die kinders se verwysingsraamwerk as moontlik te plaas. Dit plaas soveel druk op die onderwyser om die kurrikulum binne die beperkte kontaktyd af te handel dat dit onmoontlik is om 'n liefde vir die taal by die leerders te kweek. Die taalkurrikulum wat op akademiese kennis en uitkomste gebaseer is, is gewaarborg om geen bydrae te maak tot die groei van ‘n taal nie.
As daar 'n onderwyser was wat 'n liefde vir die taal by die kinders wou kweek deur die romans en gedigte vir hulle lewendig te maak, maak die kurrikulum dit onmoontlik. In 2024 lees ek die roman Kringe in 'n bos met 'n groep (Afrikaanssprekende) leerders vir wie ek tuisonderrig doen. Ons luister drie keer per week na die audioboek. Dit neem tien maande om die boek klaar te luister. Ons het stop gereeld om woorde soos “kruiwa”, “kruit”, “oewer” en “opdrifsels” te verduidelik. Sommige sessies word lesse oor die geskiedkundige konteks van die verhaal. Die leerders was almal moedertaalsprekers, en ons het nie tyd afgestaan aan al die ander aspekte van die taalkurrikulum nie. Dit duur drie maande voordat die kinders genoeg konteks het om met die karakters te begin identifiseer. Dit neem ses maande voordat hulle begin om die storie te geniet – want hulle woordeskat het begin verbeter. Na tien maande, met die voorlees van die eindhoofstukke was hulle in die storie.
Geen onderwyser kan dit regkry in die huidige kurrikulum nie. Die kurrikulumopstellers se doelwit is duidelik nie om die taal vir leerders lewendig en opwindend te maak nie. Die doel is klaarblyklik om die taal so afgesaag en onbereikbaar as moontlik te maak. Die gedig “Die tarentaal” van Totius (voorgeskryf vir Gr.11 Addisionele taal) slaag op manjifieke wyse daarin om Afrikaans nader aan sy graf te bring met elke verbygaande jaar.
Die Godsdiens-effek
Hou op om langer dele uit die formele Bybel van die taal voor te lees tydens saalbyeenkomste en eredienste, en maak preke cool: Hierdie strategie werk uiteraard net in landstreke waar die bevolking wat die taal wat geoormerk is vir uitwissing godsdienstig is. Godsdiensbeoefening is diep persoonlik en kultuureie, en intiem gekoppel aan die taal van die gelowige.
Dit is nie om dowe neute dat die King James vertaling van die Bybel een van die grootste bydraers was tot die ontwikkeling van die Engelse taal nie. Wanneer 'n groep die Bybel in hulle eie taal kan lees en hoor, kry die taal 'n status wat dit nie vantevore gehad het nie. Wil jy dus 'n taal afknou, laat godsdiensleiers ophou om die Bybel in die standaardtaal te gebruik tydens eredienste en ander geleenthede waar die geloofsboodskap gebring word.
Dit blyk dat Afrikaans nie meer goed genoeg is om die boodskap van die Christelike godsdiens te bring nie. Wanneer laas het jy 'n lang voorlesing uit die 1983 vertaling in 'n preek gehoor? As opvoeder wat baie ure in saalopeninge deurgebring het kan ek die versekering gee dat daar feitlik nooit meer uit die Bybel gelees word nie. Miskien soms 'n versie hier en daar, maar enige iets langer as drie verse word ten alle koste vermy.
Die rede? Kinders verstaan nie die taal nie. Die taal van die Bybel is nie toeganklik nie. Selfs in Afrikaanse kerke hoor ek dikwels die Engelse tekste aangehaal, en daar word net soveel Engelse liedere gesing as Afrikaanse liedere. Maak seker dat daar net kort stukkies uit die “moeilike” Bybel in standaardtaal gebruik word. Moet verkieslik nie meer as tien verse lees nie, en beslis nie uit die Ou Testament nie. Gebruik hoofsaaklik informele geselstaal in preke. Dit verseker dat die aanhoorders nie voel hulle word aan swaar, akademiese boodskappe blootgestel nie – en terselfdertyd help dit om die woordeskat van aanhoorders te verskraal. Die gevolg is dat die taal binne generasies verarm gaan wees – moontlik selfs genoeg om die uitsterwingsproses te versnel.
Daar het u dit, seergeagte leser: Die volmaakte strategie om 'n taal tot uitsterf te lei. Dit is eenvoudig, maklik en relatief goedkoop, buiten vir die kurrikulum, wat 'n paar miljoen rand per jaar beloop, maar dit is seker 'n billike prys om te betaal vir die uitsterf van 'n taal.
Nog artikels deur Tersia du Plessis:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.














