DinkWeer Donderdag | Nou Weekliks! (en Opmerkings oor die Sosiale Kontrak)
Herbesinning elke Donderdagoggend teen teetyd.
Voor ek wegspring: Julle sou oplet dat ons Voldag Vrydag-nuusbrief en oor die laaste twee weke, ook hierdie DinkWeer Donderdag-rubriek, nou weekliks aangebied word. Ons het dit stilletjies gedoen, maar danksy bestendige groei onder ons lesersgetalle die afgelope halfjaar is dit vir ons 'n plesier om jou weeklikse OntLaer-leesgenot aan te vul.
Ons doen hierdie skryfding steeds vir die liefde van die saak, so help ons gerus deur deel te neem aan die onbevange gesprek op ons platform of vir ons jou oorwoë bydrae te stuur. Om die kruipende kostes van hierdie soort oefening te finansier, sal enige vrywillige intekenbydrae natuurlik ook met dankbaarheid aanvaar word.
So dis ons deal soos hy nou lyk, en ooreenkomste kan sekerlik vrylik heronderhandel raak, net soos hulle vrylik in die eerste plek gesluit word. Wat ons bring by die gedoente bekend as die sosiale kontrak en die filosofie van die politiek wat daar rondom wentel, 'n tema wat deur die meningstukke van verlede week gevloei het.
Lees die Fynskrif mooi
Sosiale kontrakteorie is 'n tameletjie, want nie een van ons teken iewers in ons lewe een of ander vorm van Allesomvattende Meesterooreenkoms om ons vryhede deur die staat te laat inperk in ruil vir sekuriteit en beskerming nie. 'n Meer siniese vriend uit die libertariese denktradisie merk gereeld op dat die idee dat iedereen 'n onsigbare stel Bedinge en Voorwaardes aanneem - sonder 'n aanvangsdatum, en bloot op grond van die feit dat ons gebore word - nie in die besonder anders is as 'n skurk met 'n AK-47 wat beskermingsgeld van jou onderneming eis nie.
Tog moet 'n mens eers mooi kyk na sosiale kontrakteorie soos dit deur uiteenlopende denkers bedink is. Daar is die 17de eeuse denker Thomas Hobbes, wat 'n soort brute realisme daaraan gekoppel het, in die sin dat die sosiale kontrak as oorgawe aan die staatlike soewerein beter is as die “nare, brutale en kort lewe” van onderlinge, anargistiese chaos. Daar is sy tydgenoot, John Locke, wat meer positief was oor die individu se vermoë tot selfbestuur en die regte voorspruitend uit oorspronklike eiendomsverkryging. Locke het die sosiale kontrak eerder beskou as die akkoord om die staatlike soewerein gekwalifiseerde beheer oor sekere sake te gee, ten einde die lewe, vryheid en die nastreef van geluk (“life, liberty and the pursuit of happiness”) moontlik te maak.
Die rooi revolusionêre Fransman Jean-Jacques Rousseau beskou weer eiendomsreg as 'n arbitrêre beslaglegging deur een ten uitsluiting van ander, en beklemtoon op grond daarvan die kollektiewe beskikkingsreg van die samelewing. Gevolglik behoort die kollektief vrylik saam te besin om reëls te maak, en die “kontrak” lê daarin dat die individu hierdie orde respekteer in ruil vir die vryheid om, byvoorbeeld, goedere toe te eien.
Die 20ste eeu sien vir John Rawls en Robert Nozick. Rawls se sosiale kontrak is minder 'n poging tot ex post facto verduideliking van hoe die staat-en-onderdaan verhouding tot stand gekom het, en meer 'n denk-eksperiment: Hoe sal onbevooroordeelde individue kies om geregtigheid tot stand te bring? Vir Rawls lê die sosiale akkoord dan in die regverdige strategie van samewerking tussen vrye, gelyke individue. Nozick verwerp weer die idee van sosiale kontraksluiting en volg 'n selfs meer gestroopte verklaring as John Locke. Vir Nozick is die staat gewoon iets wat selfbelanghebbende individue toelaat om tot stand te kom, ten einde hul eiebelang die beste te beskerm.
Vir Locke en Nozick, dus, is die sosiale kontrak iets wat diegene oor wie regeer word, op 'n stadium tot halt kan roep. Daarin lê die groot verskil tussen hierdie lot filosowe. Sommige sien die oorwig van bedingingsmag aan die kant van die staat, en ander sien weer die sosiale akkoord as ophefbaar deur diegene oor wie beskik word.
In Suid-Afrika voel dit, indien JP Keyter se artikel van verlede week met Paul Maritz saamgelees word, of die sosiale akkoord gewoon aan flarde is, en die groot oortreder is die maghebbers wat die staat beset. Die vraag ontstaan wat diegene oor wie regeer word, nou te doen staan. Miskien is Suid-Afrika nie die beste voorbeeld van enige van die groot politieke filosofieë oor die sosiale kontrak nie, want terwyl daar talle welbemagtigde individue is wat die staat se diensleweringsmonopolieë kan ophef deur alternatiewe te bekostig, is daar duisende vir wie die staat se monopolistiese mag deur hul afhanklikheid herbevestig word.
Die mees omvattende rasionaal wat dikwels verkeerdelik of oordrewe as alternatiefskepping opgehaal word, is die sogenaamde selfbeskikkingsreg in Artikel 235 van die Grondwet, wat Eugene Brink in verlede week krities weeg en te lig bevind.
Die staat het gewoon in die lig van sulke radikale plaaslike magsverskille, geen vorm van radikale selfkorrigering of aansuiwering van prestasie nie. Die staatsbesettende ANC-elite teer eerder op die onmag van die massas om op regverdige verdienste aan te dring. In plaas daarvan, as 'n mens kommersiële ooreenkomste as metafoor kan aanwend, betaal die staat se belastingbasis 'n enorme premie vir stabiliteit, in die vorm van duur staatsdienssalarisse en maatskaplike toelae. In beginsel is beter vergoeding en toelae nie noodwendig sleg nie, maar waar is die ekonomiese groei en verdienste wat hierdie soort besteding onderskraag?
Die realiteit is dat selfs 'n kontraksparty soos ons regering, wat die vermetelheid het om aldus Piet du Plessis gereeld op selfbejammering te teer en die reg van die regeerdes om hul instemming tot regering op te hef, te onderskat, nie immuun is teen die langtermyngevolge van hul optrede nie.
Hiervan is die migrasiedebat wat Jurie van der Walt uiteensit, 'n voorbeeld. Die staat het sy sosiale kontraksplig om minstens die regeerdes se reg tot landsbegrensing gestand te doen, gruwelik verwaarloos. Terwyl die narratief van 'n totale toestroming van Afrika-migrante ten dele oordrewe is, is dit so dat grensbeheer-korrupsie en die skaars botterlagie van maatskaplike ondersteuning vir ook buitelanders, na regte 'n gevoel van uiterste benadeling en onreg onder baie Suid-Afrikaners aanwakker.
Hierdie is nie 'n unieke Suid-Afrikaanse probleem nie; Europese state is al minstens sedert 2015 besig met 'n langsame “heronderhandeling” van die maatskaplike akkoord insoverre dit nuwe aankomelinge, asielsoekers en hul samelewingspligte behels.
So wat bly oor van die Suid-Afrikaanse sosiale kontrak? Hoe moet ons daaroor dink? Dit is moeilik om in ons konteks 'n suiwer vorm van Nozick of Locke se siening daaroor te maak pas. Maar eweneens is daar groot onreg daarin indien die staat as noodwendigheid en die wil van die kollektief as altyd afdwingbaar beskou word, ongeag die gehalte van teenprestasie teenoor diegene wat hulself onderdanig stel.
In die prokureurspraktyk kan van die grootste pyne wees wanneer kliënte en hul kontrakspartye gedetailleerde ooreenkomste op skrif sluit, maar heeltemal van die papier vergeet en hulself totaal anders gedra. Die de facto praat net altyd harder - en meer deurmekaar - as die netjiese de jure van die dokument wat die ooreenkoms uiteensit. Maar miskien is daar geleentheid in die chaos van de facto bestuur in ons samelewing. Waar die staat misluk, onderhandel diegene oor wie regeer word, nuwe akkoorde wat praktiese besonderhede gee aan die netjiese, teoretiese grondwetlike dokument wat ons maatskaplike akkoord probeer weergee. Die bemagtigde individue en hul vermoë om die mislukkende staat verby te steek (selfs oor sperstrepe!) se beste kans vir regverdigbare de facto selfbestuur is om sinvolle, billike samewerking met die ontmagtigdes van ons samelewing aan te gaan.
Dit is moontlik die enigste weg uit hebsug enersyds, en andersyds totale onderdanigheid aan 'n parasietstaat, wat sigself regverdig met verwysing na die wil van die newelagtige “kollektiewe wil”.
Nog Dinkweer Donderdag-rubrieke:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.














