Dinkweer Donderdag | Die Noodwendigheid van Ontkoppeling
Afsit en uitprop as lewenswyse.
Ek het eens die verhaal gehoor van drie bouers wat gevra is waarmee hulle nou eintlik besig is. Die eerste een het gesê hy bou 'n muur. Die tweede bouer het trots opgekyk en gesê: “Ek bou 'n katedraal.” Die derde bouwer het 'n oomblik stil geraak en toe gesê dat hy bou aan die Westerse beskawing. Al drie bouers was besig met presies dieselfde werk, al wat eintlik verskil het was hulle perspektief, of meer eenvoudig gestel, al wat verskil het was hulle vermoë om terug te tree en verder te kyk as die hier en die nou.
Die eerste bouer kon nie verder sien as die bakstene, messelwerk en basiese beton waarmee hy gewerk het nie; sy eenvoudige gereedskap en die klippe wat hy daardie dag vir sy taak moes voorberei. Vir die tweede een was dit 'n kwessie van ietwat terugstaan, miskien tien of twintig treë terug te gee, en te sien dat iets groters besig was om tot stand te kom. Miskien kan dit die eerste vlak van abstraksie genoem word, waar hy kon sien dat iets groter geskep word as net netjies gestapelde klippe.
Maar in die geval van die derde persoon het hierdie bouer verstaan dat, om Gladiator buite konteks aan te haal, dit wat ons in die lewe doen, in die ewigheid weerklink. Daarom het dit wat vandag gedoen word, 'n groter betekenis as net wat ons doen, of waaraan ons werk. Daar is dus 'n nóg hoër vlak van abstraksie: Om nie net die gebou wat geskep word te sien nie, nie net die wese daarvan te begryp nie, maar ook die invloed wat dit op toekomstige geslagte het en sal hê, die merk wat die werk op die ewigheid sal los, die hap wat dit daaruit sal neem.
Nou terug na vandag. Juis hierdie vraagstuk, van abstaksie teenoor fokus, blyk al hoe meer kenmerkend van ons tyd van inligtingsoorlading en die voortdurende vloed van allerlei media te wees. Daar is altyd nóg 'n oorlog, toets dit maar. Altyd nog 'n leier om te volg of te verafsku. Daar is altyd nóg 'n groepering wat die norme en waardes wat alledaags geword het gaan uitdaag. Daar is altyd nóg 'n gebeurtenis wat die nuus vul. En miskien gebeur dit so gereeld dat ons, om dit so te stel, só naby aan die bakstene en messelwerk staan dat ons die kern van die groter verhaal wat besig is om af te speel, mis. Die Dostojevski en Bulgakov bly op die rak, want ek moet eers kyk of daardie span in daardie land wat daardie sport speel toe wel die knoop deurgehaak het. Die staproete waarmee ek al 'n dekade dreig bly vreemd vir my, want ek moet die nuutste aardskuddende toespraak so gou as moontlik kyk, asook drie reaksievideos.
Aandag Verkoop teen 'n Afslag
In Antibiotika sing Fokofpolisiekar 'n frase wat my so bietjie aan hierdie toestand herinner: “Hoe kan ek dink / as my hande altyd vasgebind is?” Sekerlik kan die mens wie se aandag konstant en ten volle opgeneem is nooit regtig dink nie. Ek is weer herinner aan die nut van ontkoppeling in hierdie video deur Professor Arthur Brooks. Om ons aandag konstant teen die laagste prys te verpand is sekerlik nie 'n manier om te leef nie. Ons moet soms terugtree om te sien dat daar meer tot die storie steek as die alledaagse klippe waarteen ons ons so graag verkyk.
Wat ek veral van verlede week se OntLaer waardeer het, was die vermoë om soveel treë terug te gee as wat nodig is om die vrae te stel wat die onmiddellike hier en nou oorspan.
Wat Hercules Boshoff so mooi raakvat is dat alle ideologie nie esoteries en onaangryplik moet wees nie. Hy skryf: “Sonder intelligente besluitneming word goedgelowige optrede aangemoedig wat maklik kan oorskakel in despotiese dominering.” Wat ek hieruit neem is dat die strewe na weldeurdagte besluite, en dan veral politieke besluite, nie van 'n samelewing 'n ongekultiveerde spul maak nie, maar dat die keuse vir wat werk soms juis dan die weldeurdagte besluit is.
Ook Hilde Kruger se pennevrug skil 'n netelige kwessie, en skei appels, pere en piesangs van mekaar. Sy meen: “Alhoewel die piesang 'n belangrike aspek is, lê die ware kuns in die gesprekke wat reeds vir meer as ses jaar voortduur.”
Ek is in beginsel dankbaar vir enige katalisator van intelligente redevoering, al is dit dan ook 'n piesang teen 'n muur. Ek is nie mooi seker wat dit van ons kunstenaars ten toon gaan stel as ons bekendste kuns 'n eeu van nou af hierdie piesang gaan wees nie, maar goed, ten minste het ons gepraat en dit is sekerlik 'n begin…
Oor Handré van Heerden se ekonomiese sprokie moet ek eerlik bely dat ek vir die eerste twee paragrawe vas geglo het dat hy geskiedkundige feite weergee. Die eenvoud waarmee hy die kompleksiteit van waarde en handel saamgevat maak ook nog die raak kritiek dat die hande wat krediet skep en dit uitdeel ons nie noodwendig help nie, was 'n vars bries deur 'n veld wat beroemd is vir ietwat verveliger beriggewing.
Die ryk verskeidenheid aan velde wat ons op OntLaer ten toon stel was weer teenwoordig, soos wat Bouwe van der Eems en Piet du Plessis onderskeidelik met bydraes oor Suid-Afrika se onderwysstelsel en digitale selfbeskikking aangebied het. In beide gevalle kom duidelik na vore dat daar heelwat ruimte vir groot en moeilike nuwe denke in ons samelewing is.
Die toekoms behoort sekerlik aan hulle wat verby die hier en nou kan sien, aan die bouer wat weet dat sy werk meer werd is as die loon wat hy aan die einde van die dag van die perseel af huiswaarts dra.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











