DinkWeer Donderdag | Hoor is nie Voel nie
Die aanloklike antwoorde van die fenomenologie, toegepas op verlede week se OntLaer.
Ronald Reagan het eenmaal opgemerk dat elke generasie vryheid opnuut vir hulself moet wen. Wat hierdie opmerking besonders interessant maak, is hoe waar dit blyk te wees.
Vryhede van spraak en denke is soos kinderspeelgronde waarvan die boelies elke nou en dan opnuut verdryf moet word, maar die boelies kom altyd weer. Waarom is dit so dat ons sekere lesse as mensdom geleer het, en in alle ewigheid nie sal vergeet nie, maar sake so belangrik soos denkvryheid en spraakvryheid vergeet ons so vinnig soos wat 'n man by 'n supermark vergeet wat sy vrou alles op haar inkopielysie gehad het? Dit maak nie lekker sin nie.
Hierdie verskynsel laat my dink aan daai ou Afrikaanse wysheid wat vandag minder algemeen is, maar wat laerskoolkinders in 'n tyd van lyfstraf goed geken het: As jy nie hoor nie, moet jy voel. Die dreigement agter hierdie woorde is duidelik: 'n Boodskap of 'n stuk inligting is verbaal aan jou oorgedra. Indien jy sou kies om nie op hierdie verbale inligting ag te slaan nie, dan sal die gevolg 'n meer gewelddadige oordrag van inligting wees. 'n Rugbyafrigter kan laatnag tydens 'n sporttoer byvoorbeeld van een punt van die gang af skree dat ligte af moet wees, maar die inligting gaan verlore, want die erns van die boodskap is ter kennisname versprei, dit is nie as tasbare werklikheid ervaar nie. Met bogenoemde probeer ek nie om lyfstraf te verdedig nie, ek wil maar net uitwys dat Reagan se opmerking ten diepste met die menslike wese resoneer.
Ons wil soms nie hoor nie, soms moet ons maar eers voel voordat ons leer.
Ervaring en Verskynsels
Op hierdie punt dink ek aan die filosofiese rigting van fenomenologie, 'n filosofiese skool wat die ervaring van 'n bepaalde gebeurtenis daarmee versmelt.
Ek som duisende boeke in een sin op, so die samevatting sal noodwendig oop wees vir kritiek, maar in wese wil die fenomenologie die klem plaas op die mens of agent se ervaring van 'n bepaalde gebeurtenis. 'n Meteoriet so groot soos die Vrystaat wat die planeet Venus teen 200 000 kilometer per uur tref is daarom vir my minder katastrofies as 'n klip wat my slaapkamervenster tref.
Die rasionele wetenskap en my eie ervaring verskil van mekaar, bloot omdat ek nie op die planeet Venus woon nie, en omdat die doen en late van daardie ronde rots redelik laag op my omgee-lysie lê. Die Kubaanse missielkrisis van die 1960’s sou vir hulle wat in die 1940’s of 1950’s gebore is 'n massiewe en wesenskritiese bedreiging gewees het — iets wat 'n blywende vrees vir 'n verskriklike dood kon inprent. Ek ervaar dit ten beste 'n leersame geskiedkundige gebeurtenis.
Vir my is iets soos 9/11 'n veel groter verwysingspunt. Dit het 'n merkende, en dikwels misleidende invloed op my idees van vrede, van Wes en Oos, en van Moslems gehad. Presies daardie gebeurtenis sou vir 'n kleuter baie minder beteken, of vir 'n oorlogsveteraan. Die punt is dus dat ons sekere dinge self moet beleef om dit werklik te verstaan en dit deel te maak van ons eie verwysingsraamwerk, sodat ons die wêreld duideliker kan sien. Dit is juis hierdie gedagtes wat by my opgekom het toe ek verlede week se uitgawe van OntLaer gelees het. Dink maar aan Angus Douglas se artikel.
Douglas skryf oor 'n tema waarmee ek myself ook dikwels verdiep: Gelykheid. Ek het Orwell se 1984 kort na my 22ste verjaarsdag gelees , en dit dalk nog nie heeltemal verstaan nie, maar soos enige goeie boek het Winston en sy marteling my bygebly. 2+2=5. Waarom? “Want Oom Staat sê so. Bly nou stil en eet jou brood van smarte”. Miskien is dit tyd om dit weer te lees. Hilde Kruger het ook verlede week op die tema van sentrale beheer gewerk. Haar waarskuwing teen tegnologiese inmening is so bietjie soos die waarskuwing teen slimfone of suiker: Ons almal hoor dit en knik saam, maar ons weet dat die stryd eintlik lank reeds verlore is.
Ek is nie fatalisties nie, ek weet maar net dat selfs Mary Poppins nie meer my sosiale media voetspore sal kan wegruim nie. Ek moet maar hoop vir 'n genadige onderdrukker.
Die presiese plek van die oorlog tussen die VSA en Israel aan die een kant en Iran aan die ander in ons gesprek oor vryheid sal eers lank na afloop van vrede akkuraat geskat kan word. Barend Wesseloo se mening dat oorlog die enigste uitweg is kan maklik ingesien word, maar ek moes myself afvra of die omstandighede wat dit die enigste uitweg gemaak het nie maar sinteties voorkom nie.
Jurie van der Walt het aan die anderkant van die oorlog se “waarom” uitgewys dat oorlog se “hoe” al hoe meer soos wetenskapfiksie begin lyk. Hilde en Lezli se waarskuwings geld sekerlik vir oorlogstegnologie ook: Slimmer oorlogsmasjiene verstaan nie net vyand beter nie, maar ook vriend en volk. Teen die agtergrond van Angus en Hilde waarskuwings, het ek Tanya Calitz se voorspraak vir menseregte se plek in die mark in 'n ander lig gelees. Ek is nie seker waar menseregte se grense op die markplein rus nie. Ignoreer ons dit, dan kan armes hul niere en baarmoeders verkoop, slaan ons te veel ag daarop, dan word konstruksiekontrakte waarvan die ganse samelewing afhanklik is aan onervare kontrakteurs gegee, gebaseer op hul voorheen gekwetste regte. Aristoteles se middelgrond moet, soos Reagan se vryheid, maar telkens opnuut nagespeur word.
Uiteindelik is die antwoord op baie van hierdie probleme onderliggend deur Daniël aangespreek.
Elke generasie moet opnuut vir sy vryheid baklei en dit opnuut wen juis omdat ideologie nie soos gravitasie vir altyd bo bevraagtekening bly staan nie. Aktiewe politici maak 'n lewe daarvan om ons te oortuig dat 2+2 inderdaad 5 is, want dit dien hulle as dit 5 is, en want 4 pas nie by hulle agenda in nie. Die leiers wat jy kies en die verteenwoordigers wat jy aanstel het idees, en daardie idees maak saak.
Die stryd van ons generasie is om die verkeerde idees, die idees wat ons ekonomies en polities agteruit gestoot het oor die afgelope twintig jaar, weg te pak. Die stryd van ons generasie is om die boelies opnuut van die speelgrond af weg te stuur.
Vorige DinkWeer Donderdag artikels:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.












