
Die Duitse filosoof Immanuel Kant het in 1784 'n sinnetjie neergepen wat denkers en ontluikende denkers sedertdien besig hou. In sy opstel Beantwortung der Frage: Was ist Aufklärung? ('n Antwoord op die vraag: Wat is Verligting) definieer hy die Verligting so: Aufklärung ist der Ausgang des Menschen aus seiner selbst verschuldeten Unmündigkeit. (Verligting is die mens se uittrede uit sy selfopgelegde onmondigheid). Hier is 'n paar stukkies agtergrondkennis in orde: Die Verligting was 'n beweging, hoofsaaklik intellektueel en kultureel, waartydens menslike rede en kritiese denke as die basis van ware kennis daargestel is. Die punt was dus dat die menings van die koning, keiser of pous nie meer as die absolute een en enigste waarheid gesien is nie, mense het nou vir hulself begin dink.
In dieselfde opstel skryf Kant dat die Verligting se leuse miskien iets soos Sapere aude! sou wees - waag dit om insig te hê! Soos wat dit met meeste bewegings maar is, het die Verligting nie 'n begin of einddatum nie, maar miskien sou Descartes se cogito ergo sum as verantwoordelike wegspringpunt geneem kon word, en die Franse Revolusie en die opkoms van Napoleon as iets van 'n einde. 'n Volgende punt uit Kant se definisie wat dalk vir die moderne Afrikaanssprekende aan 'n kontekstekort ly, is “Onmondigheid” - wat presies is dit? Mens hoor soms nog dat iemand se 21ste verjaarsdag as hul “mondigwording” beskryf word – dit beteken gewoon dat jy nou self verantwoordelikheid neem vir jou optrede. Niemand besluit of dink meer namens jou nie, en jy kan nie meer die vinger na 'n ander wys elke keer as jy droogmaak nie. Hierdie toestand, waar ander namens jou dink en besluit, sou onmondigheid wees. Kant praat van, as mens dit letterlik vertaal, onmondigheid waaraan die mens self skuld het, onmondigheid wat hy homself opgelê het. Dus het die mens gekies om van homself iets soos 'n minderjarige te maak, wat vir alle belangrike besluite oor sy skouer gekyk het wat die gesagsfigure meen hy behoort te doen. Natuurlik het die Verligting, tereg, heelwat kritiek uit kerklike en monargale kringe gekry, omdat dit aanvoer dat gelowiges soms moeilike besluite abdikeer, en kerklike of keiserlike imperatiewe ondenkend aanvaar en oorneem. Ek sou teen hierdie kritiek aanvoer dat meeste moderne predikante hul lidmate juis van hul lidmate denkende en sprekende gelowiges wil maak, omdat ware gelowiges toenemend in die minderheid staan en al hoe meer vir hul eie geloof 'n antwoord moet gee. Nietemin moet ons kennis neem van Kant se opgewondenheid. Uiteindelik dink die mens nou vir homself, dit is vir Kant goed, dit is vir hom mooi.
Die robot-teen-robot familiebordspeletjie
Ek het 'n paar jaar terug 'n familiebordspelaand bygewoon, en toe al die hulpbronplaatjies hul lêplek op die Catan-bord gevind het, hoor ek skielik hoe 'n jong familielid vir sy foon vra: “ChatGPT, waar moet ek my huisies bou?” Op daai oomblik was dit snaaks, en ons het almal lekker gelag vir hierdie innoverende, en sekerlik onregverdige, aanwending van KI. Waarom die tyd en moeite doen om te kyk hoe die stene vir jou geval het en die kans met 'n besluit waag as jy eenvoudig jou denke kan abdikeer? Waarom sukkel en worstel as dit nie nodig is nie? So meen en redeneer veral jonger generasies wat hoe langer hoe meer nie oor hul skouer kyk wat die koning of pous meen reg is nie, maar wat die alleswetende en nimmerfouterende robot op jou foon beveel? Ek is natuurlik nie 'n anti-KI doemprofeet nie, en het inteendeel onlangs aangedui waarom ek opgewonde oor KI en die bevryding daarvan is. Nietemin is ek hoe langer hoe meer bang dat komende geslagte die vermoë verloor om te dink. Die suiwere en reine woord van KI is vir heelwat van ons 'n amper heilige en onuitdaagbare waarheid, wat nie bevraagteken mag word nie. Dat KI toegang tot baie bronne het is nie noodwendig die punt nie. Die probleem is eerder dat eenvoudige en alledaagse vraagstukke waarmee ons almal behoort te worstel ten einde ons eie menings te vorm en sterk karakters te ontwikkel waarmee ons die wêreld en sy uitdagings in die oë kan kyk, nie meer aangepak word nie. Vir al sy voordele sien ek hierdie tipe aanwending as een van KI se gevaarlikste bedreigings. Wat is die mens as hy sy vermoë om krities te dink afsê en uiteindelik verleer? 'n Tingerige pelslose gorilla? 'n Swak sjimpansee met stomp tande? 'n Stuk biomassa wat teen geen meetbare maatstaf beter is as 'n robot nie? So wat sal ons doen? Hoe sal ons keer dat die golf van onmondigheid ons weer oorspoel? Die antwoord is eenvoudig: Sapere Aude!
Op hierdie punt keer ek na verlede week se uitgawe van OntLaer, waar hierdie roepstem duidelik gehoor en beantwoord is.
Wat die historiese rede daarvoor ook al mag wees, het ek dikwels as student die indruk gekry dat jong Afrikaners baie minder polities ingestel is as ander jong Suid-Afrikaners. Ons praat veel eerder oor wedstryde as verkiesings, ons lees, as 'n geheel beskou, eerder die biografieë van sportsterre as van politici. Ek speur egter 'n toenemende swaai in hierdie tendens. Daniël en Eugene se nugtere opmerkings oor gister se verkiesing is vir my 'n mooi greep op die toenemende nuanse wat daar in ons politieke denke ontstaan. Daar is meer as een party om voor te stem, en selfs die beste moontlike uitkoms gaan onder geen omstandighede alle probleme onmiddellik uit die weg ruim nie. Soos wat die uitslae instroom en die koalisies vorm, sal dit wat verlede week geskryf word heroorweeg word as profeties, optimisties, of sommer net verkeerd.
Lezli beskryf haat-lees so:
“Jy sit ander se argumente onder die vergrootglas en dissekteer dit. Dan deel jy dit met 'n “get a load of this guy”-onderskrif, of jy los 'n oogrol-emoji in die comments.”
Hierdie tendens van haat-lees het so deel van ons alledaagse inligtingsinname geword, dat ons dalk nie eens besef hoe dit ons denke vorm en beïnvloed nie. Ek vermoed ongelukkig ook dat baie mense, soos ek, sosiale media weens haat-lesers hoofsaaklik verlaat het. Ongelukkig beteken my afwesigheid op sosialemediaplatforms dat ek heelwat van die pragtige Kersfeesbemarking gaan mis waaroor Hilde uitgebrei het.
Ek het bo opgemerk dat Afrikaners dikwels nie soveel politieke belangstelling het soos wat 'n mens dalk sou hoop nie. Een punt waar die teendeel nog altyd waar was, is die grondhervormingsgesprek. Piet du Plessis neem die regering se nuwe plan onder die loep in 'n meningstuk wat sekerlik sal groei in relevansie oor die komende maande.
Bly denkend
Wat Kant reeds in 1784 raak gesien het, is nogsteeds so: Die vermoë om oor moeilike kwessies na te dink en 'n besluit te neem wat dalk verkeerd mag wees is 'n voorreg waaraan vasgeklou moet word. Ja, dit is harde werk om mondig te wees, ja jy loop 'n bepaalde risiko, maar die alternatief is om jouself een prompt op 'n slag op te offer op die altaar van onkunde en ondenkendheid, en dit is sekerlik veel erger.

Nog DinkWeer Donderdag-rubrieke:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











