
Toe ek 21 jaar oud geword het, het ek 'n lekker groot makietie by die De Kroonkamer by die Voortrekkermonument gehou. So toe 'n veldbrand onlangs oor die Voortrekkermonument-terrein gejaag het en die vlamme tot teenaan De Kroonkamer en sy grasdak gekom het, was ek sommer persoonlik bekommerd. Personeel, brandbestryders en vrywilligers moes saam inspring om 'n ramp af te weer. Du Preez de Villiers se verslag op OntLaer verlede week oor hierdie brand herinner ons aan iets wat die indrukwekkende klipwerk van daardie gebou maklik laat vergeet, naamlik dat 'n monument se voortbestaan berus op mense wat die moeite doen om dit te beskerm en te versorg.
Toe ek na die foto's van die woeste vlamme kyk, het ek onwillekeurig gewonder wat dit sou verg om die Monument weer te bou indien die brand dié keer nie betyds gestuit is nie. Nie net hoeveel geld dit sou kos nie, maar of ons nog die mense, vaardighede en kennis het om so iets weer te maak.
Dieselfde vraag het ná die brand by Notre-Dame in Parys in 2019 ontstaan. 'n Gewilde storie het kort daarna op die internet versprei dat Ubisoft se buitengewoon gedetailleerde digitale weergawe van die katedraal in die rekenaarspeletjie Assassin’s Creed Unity gebruik sou word om Notre-Dame te herbou. Maar dit was nie heeltemal waar nie. Die speletjie se model was indrukwekkend, maar nie naastenby akkuraat genoeg vir restourasiewerk nie. Die herbouers moes eerder staatmaak op foto's, ou bouplanne en, merkwaardig genoeg, op vaardighede wat eeue oud is. Om die Middeleeuse houtdak te herbou, is reuse-eikebalke weer met tradisionele handbyle gekap en met houtpenne en laswerk aanmekaar gesit.
Selfs in hierdie tegnologies gevorderde samelewings moes die mensdom diep in sy beskawingsgeheue gaan grawe om uit te vind hoe om weer te bou wat mense agthonderd jaar gelede kon bou.
Dit het my laat wonder hoeveel van die wêreld rondom ons ons vandag inderdaad sou kon herskep indien ons van voor af moes begin. Stel jou voor jy word môre wakker in 'n postapokaliptiese wêreld soos Mad Max s'n, waar die kragnetwerk af is (toegegee, Suid-Afrikaners sal waarskynlik op die front fine wees), die internet bestaan nie meer nie en die voorsieningskettings waarop ons elke dag staatmaak, het verdwyn. Hoeveel van die dinge wat jou moderne lewe moontlik maak, sou jy self weer aan die gang kon kry? Ons kennis vandag is versprei tussen miljoene mense, instellings, masjiene en stelsels. Die individu weet minder van die geheel omdat die geheel soveel meer weet.
Ons is waarskynlik die tegnologies gevorderdste geslag wat nog geleef het, maar terselfdertyd een van die geslagte wat die minste in staat is om die tegnologie waarop ons lewens berus, self te herskep. Ons dra die wêreld se kennis in ons broeksakke rond, maar bitter min van ons kan die toestel waarmee ons dit doen, self bou. Ons kan binne sekondes met iemand aan die ander kant van die aarde praat, maar hoeveel van ons verstaan werklik hoe die netwerk werk wat dit moontlik maak? Ons beskawing as geheel het slimmer geword, maar die individu het minder selfstandig geword.
Dit is natuurlik ook die wonder van beskawing. Die verdeling van arbeid, spesialisasie en samewerking maak dit moontlik dat ons gesamentlik dinge kan vermag wat geen mens ooit alleen sou kon doen nie.
Maar tog leef ons almal op geleende mag en geleende vaardigheid. Ons kan meer doen as enige geslag voor ons, maar die sleutels tot daardie vermoëns lê toenemend in iemand anders se hande.
Dieselfde gebeur ook op individuele vlak. Ons kontrakteer ons denke uit aan tegnologie weens die gerief. Google Maps onthou die pad vir jou en jou kalender herinner jou sorgeloos. En nou kan KI vir jou argumente formuleer, 'n vergadering opsom, die boek verduidelik en selfs sê wat jy waarskynlik van 'n onderwerp behoort te dink.
KI is natuurlik 'n besonderse hulpmiddel. Ek gebruik dit self. Maar daar is 'n verskil tussen 'n hulpmiddel wat jou denke versterk en een waaraan jy jou denke afgee. As 'n mens elke ongemaklike intellektuele worsteling kan omseil deur 'n prompt te tik, loop jy die gevaar dat jy die antwoord kry sonder om die vermoë te ontwikkel om te weet waarom dit 'n goeie antwoord is.
Dit is miskien die vreemdste vorm van geleende mag ooit. Om toegang te hê tot byna al die mensdom se kennis, maar toenemend afhanklik te raak van iemand of iets anders om vir jou te sê wat daarvan gemaak moet word.
Dit gee aan vryheid 'n minder gerieflike betekenis as bloot die afwesigheid van iemand wat vir jou sê wat jy mag doen. Vryheid vereis ook vermoë. Jy moet iets kan doen met die vryheid wat jy het.
Ek glo dus dat die mensdom weer ernstig moet besin oor wat rentmeesterskap beteken. 'n Rentmeester verstaan dat iets aan hom toevertrou is wat nie vanself sal voortbestaan nie. Tale moet gepraat word, 'n gebou moet onderhou word en 'n demokratiese kultuur moet beoefen word.
Ons praat graag van ons regte asof hulle gegewens is. Maar baie van die dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar, bestaan slegs omdat vorige geslagte genoeg kundigheid, gewoontes en instellings opgebou het om dit aan ons oor te dra. Ons is dus nie bloot verbruikers wat 'n beskawing geniet nie. Ons is tydelike bewaarders daarvan, of ons dit besef of daarvan hou of nie.
Roger Scruton het geskryf dat goeie dinge makliker vernietig as geskep word. Dit is juis omdat skepping en bewaring ondankbare werk is. Iemand wat vir twintig jaar die dak van die moedergemeente herstel, haal selde die koerant. Maar dit is dié mense wat 'n beskawing aan die gang hou.
Rentmeesterskap is daarom amper die teenoorgestelde van geleende mag. Dit sê nie dat jy alles self moet kan doen nie. Dit sê eerder dat jy verantwoordelikheid aanvaar om genoeg kennis, vermoë en instellings te behou dat jy nie volkome magteloos staan wanneer die dinge waarop jy staatmaak ophou werk nie.
Die uiteindelike toets van vryheid is dus dalk nie hoeveel dinge tot jou beskikking is wat jy vrylik kan aanwend nie, maar hoeveel daarvan jy nog kan versorg, verstaan, herstel en aan die volgende geslag oorhandig.
Hilde Kruger wys op die kabels, elektrisiteit, water en grondstowwe waarop ons digitale lewe berus, en die verantwoordelikheid om dié infrastruktuur te onderhou en te herwin. Die beeld van die wolk laat ons maklik vergeet dat ons toegang tot die wêreld van baie aardse dinge afhang. Wanneer die fisiese koste onsigbaar is raak, dit ook makliker om die mense en besluite agter ons digitale gerief mis te kyk.
Van kameras langs Amerikaanse strate tot die Britse gesondheidsdiens volg Heinrich Leeuw die kontrakte waardeur regerings van private tegnologie afhanklik raak. 'n Staat kan só sterker teenoor sy burgers word terwyl sy eie beweegruimte teenoor 'n verskaffer krimp. Die vraag is hoeveel regeringsmag oorbly wanneer die regering nie meer sonder sy kontrakteur kan klaarkom nie.
Piet du Plessis gebruik Europese onrus as 'n spieël vir Suid-Afrika se werkloosheid, diensverval en verswakte vertroue in die staat. Gelees teen die tema van geleende mag, gaan dit ook oor regerings wat voorbestaan al is die sosiale kontrak waarop dit berus broos omdat die burger sy verpligtinge moet nakom terwyl die staat nie doen nie.
Eugene Brink lees die verkiesings in Suid-Afrika en die VSA as 'n afrekening met leiers wat kiesers se ekonomiese pyn en ongeduld onderskat het. In sommige gevalle kan die burgery hul geleende mag herroep en verkiesings bly die mees direkte meganisme om dit te doen, selfs in Suid-Afrika.
Du Preez de Villiers se verslag oor die brand by die Voortrekkermonument wys hoe erfenisbewaring van personeel, vrywilligers en die beskeie, gereelde bydraes van gewone mense afhang.
In verlede week se DinkWeer Donderdag verbind Paul Maritz 'n jong familielid se versoek om KI-hulp by 'n Catan-bord met Kant se begrip van onmondigheid. Daarmee bring hy geleende mag tot binne-in die mens: jy kan die antwoord ontvang en terselfdertyd die geleentheid prysgee om jou oordeel te oefen. Mondigheid vra dat ons ook met 'n slim hulpmiddel langs ons steeds self vir ons oordeel instaan.

Vorige weke se DinkWeer Donderdag:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.













