
Ek het onlangs op OntLaer geskryf dat kiesers (en by verlenging, die publiek) hul verwagtinge moet temper wanneer dit by die onlangse verkiesing kom.
Dit was nie om onnodig swartgallig te wees nie, maar net om te wys dat die koalisielandskap en regeerwese in die konteks van 'n verswakkende ANC steeds uiters kompleks gaan wees. En hoe die ANC – ten spyte van letterlik als – steeds tans gewild is op die platteland buite die Wes-Kaap. Daar was wel deurbrake en verrassings (soos die DA wat koalisies in Emfuleni en Nelson Mandelabaai (NMB) gaan lei en die ANC se steun wat in die algemeen en veral in die metro’s meer as wat verwag is gedaal het), maar die vraag is nou net tot welke uitkomste dit gaan lei en wat lê voor op die pad na 2029 se algemene verkiesing.
Voor die verkiesing is daar aangeneem dat die MK-party en die ANC nie maklik sal saamwerk nie. Nes Herman Mashaba eens op 'n tyd gesweer het om nooit saam met die ANC te werk nie. Al die ontluikende permutasies sedert 4 November wys net weer hoe moeilik dit is om trefseker voorspellings in die politiek te maak.
Soos ek hierdie skryf, is dit steeds duister hoe verskeie koalisies gaan uitspeel ofskoon daar wel sekere blyke is van moontlike samewerking. Soos Lezli Edgar aangetoon het, is daar een verskynsel wat egter al hoe duideliker word: Die DA is weliswaar die grootste party in verskeie metropolitaanse en plaaslike munisipaliteite, staan voor die moeilikste keuses. Hoewel die wiskunde in Johannesburg en Tshwane klop vir Action SA en die DA om saam te regeer (en met 'n derde vennoot in Ekurhuleni), blyk dit dat Action SA met die ANC en selfs kleiner partye kragte gaan saamspan in die Gautengse metro’s, aldus BusinessTech. Die DA is reeds as verreweg die tweede grootste party in eThekweni (Durban en omstreke) uit die koalisie aldaar weggelaat terwyl die MK 'n koalisie van die ANC, Action SA en die kwynende EFF lei. Daardie bloudruk is tewens waarskynlik in Gauteng ook.
Pres. Cyril Ramaphosa en die ANC is ook skoorvoetend vir koalisies met die DA en is glo moeg vir hulle. Die rede waarom koalisies tussen die ANC en kleiner partye meestal dieselfde uitkomste oplewer, is omdat die ANC as grootste party aanvanklike klein toegewings maak, maar uiteindelik die kitaar slaan met bestuur en beleid. Die situasie is nou anders: In die Gautengse metro’s is die DA nou veel sterker as die ANC en laasgenoemde sal dus nie meer die voorhoedeparty wees nie. Daar sal op stuk van sake op administratiewe vlak skoongemaak en blootgelê moet word, en dit kan die ANC allermins bekostig.
Soos Piet du Plessis skryf:
“Wat natuurlik die DA se bedingingsmag in sulke koalisievorming verminder – selfs al het die party in sekere gevalle die meeste stemme – is dat die munisipale amptenare wat voorheen 'n ANC-beheerde stadsraad gedien het, in veels te veel gevalle ANC-kaders is wat ongelukkig – soos my eie ervaring oor baie jare in die binnekringe van ANC-staatsadministrasie my geleer het – nie op meriete en vanweë hulle vermoëns aangestel is nie . . . Baie amptenare was natuurlik ook betrokke by die korrupsie van voormalige ANC-raadslede en weet waar die spreekwoordelike lyke begrawe is. Dit gee hulle 'n houvas op die ANC-raadslede in die nuutgevormde koalisies.”
Die vraag bly nou wat dan in Mangaung en veral NMB gaan gebeur indien die ANC die DA die rug in Gauteng toekeer. Iewers gaan die ANC verloor en ook hulle staan voor moeilike keuses.
Vyf jaar is 'n lang tyd en dit is byna onafwendbaar dat indien veral die Gautengse metro’s met wesenlik die bestaande koalisies voortgaan, hulle verder agteruit sal boer wat dienslewering betref. En sulke dienslewering het opsluit 'n invloed op nasionale en provinsiale keuses in algemene verkiesings. Indien die DA nou uitgesluit word in Gauteng, sal dit myns insiens nie katastrofaal vir hulle wees nie – hoewel dit sleg is vir die inwoners wat water, krag, en dies meer betref. Hulle sal nie in 2029 pa hoef te staan vir die verdere verval in Gauteng nie en dit selfs as 'n politieke wapen gebruik. Soos ek in my vroeëre stuk aangedui het, sal hulle bowendien 'n ongekende gemors in Johannesburg en elders erf wat lank gaan vat om reg te stel.
Ek wil op hierdie punt stilstaan by twee van Daniël se punte. Die eerste is:
“Partye gaan altyd natuurlik groter steun nastreef. Tog besef politieke partye, veral na die afgelope verkiesing, dat hul hele politieke bestaansreg nie afhanklik kan wees van 'n toekomstige oorwinning bo 50% nie. Hulle moet groot genoeg word om bedingingsmag te hê en betroubaar genoeg om met ander 'n werkbare regering te vorm.”
Eenpartyregering is 'n gevoelige slag toegedien in die onlangse verkiesing, maar die DA sal by uitstek moet streef om meer as 25% in die toekoms in te palm. Om die grootste party te wees het bepaalde voordele. Om dit te vermag, sal hulle moet aanhou steun by die ANC en Action SA afrokkel en veral nie-stemmers sover kry om te gaan stem. Dit is doenbaar, maar hef aan lê voor. Hulle kan nie by 25% vashaak nie.
Die tweede is die volgende:
“Koalisiepolitiek word nie stabiel omdat politici skielik meer deugsaam word nie, maar omdat herhaalde verkiesings hulle leer watter gedrag beloon en watter gedrag gestraf word. Ons sal waarskynlik eers deur 'n tydperk van mislukte eksperimente moet gaan voordat die reëls, verwagtinge en politieke kultuur rondom koalisies begin verstewig.”
Glo dit of nie en ondanks al die water- en kragonderbrekings en al die ander mislukkings, bly die ANC vir nou die grootste party in die land. Dit blyk asof vele mense in die Gautengse metro’s nog nie genoeg gely het nie en derhalwe meer tyd en foltering benodig. Nog 'n verkiesingsiklus, nog lesse wat eers geleer moet word.
Daar sal uiteindelik en inderdaad van voor af begin moet word, soos hy trouens in sy DinkWeer Donderdag-bydrae uitwys. Die meeste mense in ANC-beheerde munisipaliteite weet nie eens meer wat die basiese aspekte van dienslewering is nie of wat munisipaliteite behoort te doen nie. Hulle koester baie lae verwagtinge. Ek woon in een van die beste munisipaliteite in die land volgens verskeie aanwysers, naamlik Drakenstein. 'n Munisipaliteit is 'n komplekse wese maar uiteindelik is dit die basiese en sigbare take wat tel in elkeen. Nie die skouspelagtige nie. Dit is lyne op 'n pad verf, netheid, slaggate herstel (of 'n stuk pad wat oorgeteer moet word), en gras wat gesny moet word.
Dalk sal mense in 2031 besef hoe maklik dit regtig is as ou en gewone take reg en konsekwent gedoen word. En hulle gaan moet leer om van die take self te doen – as hulle nog nie het nie.
Op hierdie punt sluit die brief van ’n anonieme leser sydelings aan. Hy/sy maak 'n saak uit vir verantwoordelikheid bo voogdyskap vir die Afrikaners. Synde meer fokus op onsself eerder as om verantwoordelikheid vir ander groepe te aanvaar. Daar is iets opreg en oorredend hierin, maar dit is ’n effense oorvereenvoudiging en myns insiens teenproduktief om te vra dat byvoorbeeld die herstel van slaggate en skoonmaak van parke noodwendig afgeskaal moet word. Orania is 'n homogene Afrikaner-gemeenskap (wat op eie instellings, arbeid en grondgebied berus), maar dit is piepklein vergeleke met die Afrikaners wat nie daar woon nie. Afrikaners kom verspreid voor, maar ook gekonsentreerd (hoewel nie eksklusief nie) in sekere gewestelike gebiede. Daardie voorstede en areas gaan die spilpunt van die Afrikaner tot ver in die toekoms vorm en in menigte gevalle, sal Afrikaners dit self (dikwels met die hulp van ander gemeenskappe) moet onderhou en opbou te midde van 'n retirerende staat. Dit is immers hoekom Sol-Tech in Pretoria geleë is ('n gepaste voorbeeld van 'n eie instelling wat eie arbeid kweek). Daar is nie een oplossing vir die Afrikaner se dilemmas nie en daarom moet dit steeds multidimensioneel, lewensvatbaar en proporsioneel benader word. Bowendien kan dieselfde doelwitte soos eie (vul die spasie in) op verskeie maniere nagejaag word. Vennootskappe en vriendskappe moet ook nie noodwendig met voogdyskap verwar word nie.
Terwyl kiesers vir uiteenlopende partye gestem het en die mees radikale elemente (soos die EFF) in wese na die kantlyn geskuif is, wys David Ansara uit hoe die stryd om universiteite se siel juis fel voortduur. Nes met Afrikaans as voertaal en transformasie, word sekere middele nou weer teen die andersdenkendes-in-die-minderheid by die Raad van die Universiteit van Kaapstad ingespan om hulle verdag te maak en verban. Selfs indien Ansara en adv. Mark Oppenheimer oordryf en waarskynlik verkeerd vertolk word, kan hul klagtes en bewyse nie goedsmoeds onder die mat gevee word nie. Dit moet ten minste ondersoek word en verkieslik nie slegs deur 'n uitgesoekte regter nie. Die beste universiteit in Afrika verdien beter.
Soos Daniël uitwys, is die uitdaging vir politieke partye om tussen verkiesings entoesiasme te behou. Hilde wys juis uit in haar artikel oor Yes! Definitely hoe waterbottels uniek deur plaaslike kunstenaars ontwerp word en boonop herwinbaar en herbruikbaar is vir langer gebruik. Hulle kan dan byvoorbeeld as kunstige houers dien en handelsmerk-lojaliteit kweek. Dit is 'n deelnemende konsep wat kreatief in die politiek en ander bedrywe toegepas kan word vir dieper blootstelling en belangstelling.

Nog DinkWeer Donderdag rubrieke:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.














Om een of ander rede kon ek die oorsig nie Restack met my eie nota en met die oorsig van Eugene aangeheg nie. Weet nie waarom nie, want ek kan dit gewoonlik doen. Ek het dus Ge-restack met die skakel na Eugene se oorsig in my kommentaarblokkie. Maar dis egter nie effektief genoeg nie, want nou sien net my eie leserskring dit en nie die totale groep lesers wat OntLaer se publikasie dalk sal raaklees nie…
Hier is my nota egter:
"Dr. Eugene Brink plaas die afgelope week se OntLaer-artikels in goeie perspektief, met baie goeie toegevoegde insigte… (Sien skakel in die kommentaarblokkie.)