Voldag Vrydag met OntLaer (7 November 2025)
Volgeprop met vars denke vir jou Vrydag.
DIE WEEK IN DRIE SINNE:
Daniël oorweeg wat politieke denkers uit Zohran Mamdani se oorwinning in New York kan leer (en wat hul liefs moet weggooi), Paul kyk krities na progressiewe ortodoksies wat ook onder sekere ouer Afrikaanse generasies vaardig is, en Hercules Boshoff skryf 'n repliek op 'n artikel deur Eugene Brink waarin laasgenoemde vir die filosowe op die markplein knor.
Hilde Kruger pak haar LEGO-blokkies weer uit, met 'n interessante blik op hoe die speelgoedreus sy handelsmerk teen sementmanne toegeblok het, Zakhele Mthembu deel sy besware teen taxi-monopolisme, en Jaco Kleynhans bevraagteken heersende gevolgtrekkings oor die Nederlandse verkiesingsuitslae.
Professor Joseph Heath is terug met 'n diepgaande artikel wat lig op die populisme-verskynsel werp en vanuit 'n wetenskaplike hoek beskou (ironies, gegewe die punt wat gemaak word) en leser Du Toit Maritz besin oor of die ingesteldheid om oop debat te wil voer, belangriker as die uitkomste daarvan is.
Lekker vol. Lekker lees!
INTERNASIONALE STORIES OM VAN KENNIS TE NEEM
Vermoedelik derduisende nie-Arabiese mense is in vermeende dade van volksmoord in die Soedanse Darfoer-streek deur die paramilitêre Blits Ondersteuningsmag doodgemaak, sodanig dat poele bloed deur satelliete waargeneem kon word.
Burgermeersterskandidaat Zohran Mamdani het die New Yorkse burgermeerstersverkiesing gewen, in 'n uitslag wat op verskeie vlakke geskiedenis maak.
Tunisië word daarvan beskuldig dat hy migrante uit Afrika suid van die Sahara mishandel en op rassistiese wyses polisieër, maar dié Noord-Afrika land is vasbeslote dat dit nié 'n oorgangsone vir onwettige migrasie na Europa sal wees nie, na aanleiding van druk vanuit die EU.
Die terugbesorging van die oorskot van Israeliese gyselaars vorder, met slegs ses liggame wat nog deur Hamas aan die Israeliese weermag oorhandig moet word.
In Meksiko het Grecia Quiroz, die vrou van die vermoorde burgermeester van Uruapan, Carlos Manzo, sy pos oorgeneem. Manzo, wat uitgesproke was teen georganiseerde misdaad wat sy land en streek teister, is die naweek tydens Dag van die Dooies-vieringe (Dia de los Muertos) in 'n sluipmoord doodgeskiet.
INHOUD VAN BUITE, MAAR BINNE ONS BELANGSTELLING:
“You don’t mess with the Zohran” deur Benji Shulman op The Common Sense.
“Being ‘anti-woke’ as a protected philosophical belief” deur James Murray en Eric Kaufmann op The Critic.
“Dokters vat die pad: ‘Ek kon nie meer gate toestop in 'n staatlose staat nie’” deur Willemien Brümmer op Netwerk24.
“What the Left can learn from Argentina” deur Thomas Lambert op UnHerd.
“Nog 'n pyl in die koker teen fatalisme” deur Piet Croucamp op Binne+Land.
“Wees kwaad vir iets anders” deur Dirk Hermann op Maroela Media.
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Ons wil graag by jou terugvoer kry.














