DinkWeer Donderdag: Internasionale Stemme op OntLaer
Opinies en ontleding van Budapest tot Bela-Bela.
OntLaer is stil-stil besig om 'n onopsetlike maar opwindende gebruik te ontwikkel. Dis beslis nie 'n strategiese rigting waarop formeel besluit is nie, maar iets wat gegroei het uit die aard van hierdie projek self. Al hoe meer internasionale stemme, van filosowe en sosioloë tot akademici, denkers en outeurs, se artikels word met hul vergunning en goedkeuring vertaal en op OntLaer gepubliseer.
Net hierdie afgelope week het Helen Pluckrose, 'n Britse outeur en kultuurkritikus bekend vir haar verdediging van klassieke liberale waardes teenoor postmoderne denke, en Natasha Burge, 'n Amerikaanse skrywer en denker wat gereeld oor identiteit, plek en kultuur skryf, op OntLaer 'n debat gevoer oor liberalisme vs. postliberalisme.
Die afgelope maande was daar ook figure soos Joseph Heath, 'n Kanadese politieke filosoof; Frank Furedi, 'n Hongaars-Britse sosioloog wat dekades lank skryf oor moraliteit, kultuur en die verval van gemeenskapsbande; Nederlandse filosoof Maarten Boudry, wat hom posisioneer as 'n kritikus van die nuwe dogmas aan beide die linkse en regse kante, en Nick Cohen, 'n Britse joernalis met 'n skerpsinnige oog vir magsmisbruik en ideologiese selfverraad.
Hierdie wêreldbekende stemme in die globale vrydenkende debatte word sodoende ook nou deel van 'n Suid-Afrikaanse gesprek.
'n Vreemde vertroudheid
Dit is opvallend dat hierdie internasionale bydraes dikwels nie soos buitelandse aflewerings voel nie. Hulle temas is dikwels nie vreemd of ver verwyderd nie. Trouens, daar is byna 'n skokkende bekendheid. Wanneer Frank Furedi oor die normalisering van vervreemding skryf, voel dit of hy die toestand van baie Afrikaanse en Suid-Afrikaanse gemeenskappe verwoord. Dit is nie uitsluitlik 'n Suid-Afrikaanse sentiment nie maar dit het 'n bepaalde Suid-Afrikaanse karakter. Soos wat gemeenskappe steeds aanpas by die land se wanbestuur en staatlike verval, vind ons Furedi se beskrywing van kulturele ontheemding nie in 'n antropologiese teksboek nie, maar by ons bure, ons kollegas, selfs in ons kerke.
Of Joseph Heath se ontleding van daardie gewilde “equity meme” wat gedurig op sosiale media versprei word. Heath se kritiek is op hoe komplekse idees soos regverdigheid, gelykheid en strukturele nadeel gereduseer word tot 'n eenvoudige prentjie. Suid-Afrika ervaar dikwels dieselfde redusering van kompleksiteit na eenvoudige binêre idees wat makliker is om te verduidelik en te verteer maar niks bydrae tot die gesprek of meer belangrik, enige oplossings nie.
Nog 'n verdere voorbeeld van 'n internasionale stem met plaaslike toepassing, skryf Eddie Gunn oor universiteite in die VSA wat, onder druk van burokratisering en ideologiese eenvormigheid, hulle ou akademiese weefsel verloor het. Die ruimte vir debat, die rol van ewekniebeoordeling en die geduldige opbou van kennis word prys gegee vir die sakebelyning van tersiere onderrig. Maar hierdie is nie bloot verskynsels in Kanada, die VSA of universiteite in die Noorde nie. Ons sien dit self raak in Stellenbosch, Pretoria en Potchefstroom en kan wat Gunn dus beskryf dadelik herken.
Universele spanning
Wat die internasionale skrywers se bydraes relevant maak, is nie dat hulle 'n verborge Suid-Afrikaanse waarhede ontbloot nie, maar eerder dat hulle hul vinger plaas op wêreldwye spanning wat ons ook hier voel. Hulle help om die kultuurskuiwe, die ideologiese sleur, en die subtiele herdefinisies van begrippe soos “billikheid”, “gelykheid” of “kritiek” te verduidelik. En hierdie internasionale perspektiewe is verrassend bruikbaar in ons eie plaaslike konteks.
Maarten Boudry se uitwysing van die manier waarop sogenaamde “progressiewes” hul oorspronklike vooruitgangsdenke prysgee, kon net so maklik oor Suid-Afrikaanse besluitnemers en meningsvormers, of myns insiens die transformatiste, geskryf gewees het. Daar is 'n onverwagte bondgenootskap wat informeel begin vorm tussen skrywers en denkers wat opnuut terugkeer na Verligtingswaardes, en plaaslike stemme – akademici, joernaliste, vakbondleiers, gewone burgers – wat ook voel dat daar iets verlore gaan wanneer elke idee van vooruitgang as verdag afgemaak word.
Wanneer Boudry of Heath hul kritiek teenoor sekere dogmatiese filosofiese neigings formuleer, is dit nie bloot 'n aanval op “woke” of linkse politiek nie - dit is veel eerder 'n poging om ruimte terug te wen vir denke wat kompleksiteit verdra en vir debat wat nie reeds vooraf bepaal is deur die regte of verkeerde denke nie. Dis 'n poging om weer 'n kultuur van nuansering en selfkorreksie te herstel. Iets wat ook hier in Suid-Afrika broodnodig is.
Die betrokkenheid van internasionale stemme op OntLaer werk juis omdat dit nie oor vertaling in die eng sin van die woord gaan nie. Dis nie net Engels na Afrikaans, of Amerika na Suid-Afrika nie. Dis 'n intellektuele “hertoewysing” van gesprekke wat gemeenskaplik oor die wêreld heen is en dit is 'n poging om temas wat andersins sou verbrokkel binne in politieke of akademiese silos, in 'n gedeelde ruimte te plaas.
Tegelykertyd is daar toenemend 'n gevoel onder gewone mense dat hulle verlore is in die geraas van elite-ideologieë en dat hulle sienings nie meer in die openbare sfeer verteenwoordig word nie. Maar dit is nie 'n Suid-Afrikaanse klagte nie. Dis 'n wêreldwye verskuiwing. Maar dit vind 'n eie uitdrukking hier in Suid-Afrika deur ons tale, ons geskiedenis, ons politieke landskap, en ons unieke spanning tussen pluraliteit en eenheid.
OntLaer het ook oor die afgelope drie maande die groot voorreg gehad om bydraes van plaaslike figure soos parlementariërs, regeringsleiers, vakbondhoofde, joernaliste, akademici en aktiviste te ontvang. Ten spyte van hierdie verskydenheid speur ons nietemin 'n duidelike goue draad oor hierdie wye verskeidenheid van menings heen soos wat hulle verskyn het. Die goue draad blyk vir my 'n gesamentlike behoefte aan sinvolle gesprek te wees, aan eerlike meningsverskil, en aan 'n gedeelde morele vertrekpunt wat nie vooraf deur groepsdruk of lojaliteite bepaal is nie. Dit is tans nog ‘n dun goue draad maar hy is daar.
Dit alles gesê, lê die krag van OntLaer myns insiens nie daarin dat ons bekendes of beroemdes se artikels publiseer nie. Na my mening is die beste en diepste analise wat al op OntLaer verskyn het, van ons eie plaaslike gewone Jan Alleman skrywers wat in Afrikaans skryf met helderheid, moed, en diep insig. Die fokus is grootliks nie op reaksionêre nuussiklus politieke gebeure nie maar wat moreel, kultureel en menslik op die spel is.
By OntLaer poog ons om uiteenlopende idees binne 'n ruimte van hoflike debat bymekaar te bring sonder opvoerigheid ('n gunsteling woord van mede-redakteur Frederik van Dyk).
Slot
Hierdie platform, en veral hierdie praktyk om met vergunning internasionale bydraes in te sluit, is 'n beskeie poging om daardie gesprekke nie net te verAfrikaans nie, maar te verdiep, te toets, en opnuut sinvol te maak in ons eie konteks. Insgelyks glo ek dat ons plaaslike skrywers se bydraes oor dieselfde kwessies 'n ewe waardevolle bydrae lewer tot die wereldwye debat.
In 'n era waarin baie platforms net hul ideologiese voorkeur bevestig, kies OntLaer 'n moeiliker pad van gesprek (wat nie noodwendig so finansieel voordelig is nie). En soms kom daardie gesprek uit Kanada, België, Londen of Budapest en ander kere uit Kaapstad, Bloemfontein, Lynnwood of Bela-Bela.
Nog artikels deur Daniël op OntLaer:
SOSIALE MEDIA
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.